Voorskou – Paul Roos vs. Affies
Kragmetings tussen die Paul Roos Gimnasium en die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria word deurentyd gekenmerk deur drama en oomblikke van briljantheid wat die uitslag bepaal. Die span van die Eikestad pak more vir Affies in die hoofwedstryd van sy rugbydag ter viering van sy 150ste bestaansjaar.
Wanneer in die geskiedenisboeke gekyk word sal gesien word dat die totale punte in 17 wedstryde teen mekaar aangeteken deur Affies (294) en Paul Roos (296) feitelik dieselfde is. Dit gee ’n gemiddelde telling van 17-17. Die kragmeting wat op SuperSport gebeeldsend word, beloof dus om ‘n klipharde stryd te wees.
Albei spanne het sover een wedstryd dié seisoen ter voorbereiding gespeel. Die span van die Eikestad het Swartland met 67-0 uit die pad gestamp, terwyl Affies vir Helpmekaar-kollege van Johannesburg met 24-0 getroef het. Die Maroentruie se gevaarman is hulle buitesenter, Nico Leonard. Hy het verlede jaar 16 drieë vir sy skool se eerstespan ingeryg en behoort vanjaar ‘n sterk aanspraakmaker op die Suid-Afrikaanse Skole-span se 13-trui te wees. Hy behoort in ‘n goeie tweestryd met Louritz van der Schyff gewikkel te wees.
Affies se hoofseun, Vic Meyer, neem sy plek lanks die kant van die skrum in na hy vanaf die plaasvervangersbank teen Helpmekaar speelkans gekry het. Meyer is die seun van die Springbok-afrigter, Heynecke Meyer. Paul Roos se afrigter, Hein Kriek, het verlede jaar die Suid-Afrikaanse Skole-span touwys gemaak.
In 2000 het Affies naelskraap as oorwinnaars uit die stryd getree toe die twee spanne by die St. John’s Paastoernooi kragte gemeet het. Fourie du Preez en Francois Swart was Affies se skakelpaar. Met tyd verby het Affies ’n drie in die hoek gedruk met Swart wat verdoel het om aan Affies ’n naelskraapse oorwinning van 31-29 te gee.
In 2006 het Paul Roos een van die skool se sterkste spanne in die geskiedenis opgelewer. ’n Span wat name soos Francois Hougaard en Stephan Dippenaar gehad het. Dié span, wat eindelik die seisoen onoorwonne sou afsluit het 25-7 gewen.
In 2007 het Affies na Stellenbosch gereis met 28 spanne. Willie le Roux het die nommer 10 trui vir die manne van die Eikestad gedra met Gerhard van den Heever wat in die laaste vesting vir Affies was. Die wedstryd sal ewig onthou word vir die modderbad waarvoor die reën gesorg het. Paul Roos moes hard werk om eindelik 22-15 oorwinnars uit die stryd te tree.
Die eerste en enigste gelykopstryd tussen die twee spanne was in 2008 toe hulle op LC de Villiers teen mekaar gespeel het in die voorwedstryd vir Tukkies en Maties. Affies, met Van den Heever, Quinn Roux en Andries Feirrera in die span, het 14-0 voorgeloop voordat twee spellers van Paul Roos koelkas toe gestuur is. Die manne van Stellenbosch het dadelik ’n rat oorgeskakel en met 13 spelers twee keer gedruk om die telling 14 elk te maak. Die wedstryd het eindelik 17- elk geëindig.
2009 se kragmeting sal onthou word vir die wipplank stryd tussen die twee spanne. Die wedstryd was wéér by die St. John’s Paastoernooi. Die voortou is gereeld uitgeruil tussen die twee spanne. Steven Kitshoff, JP du Plessis, Craig Barry en Tsotsho Mbovane het vir Paul Roos uitgedraf met Mouritz Lombaard, Luan Jacobs en Juan Schoeman wat vir Affies gespeel het. Affies was 25-22 voor met tyd reeds verstreke. Du Plessis het twee keer Affies se doellyn oorgesteek en vele male bresse in die verdediging geslaan.
Paul Roos het op Affies se doellyn geboer en ’n groot gaping geslaan met Mbovane wat doellyn toe genael het net om deur Lombaard, wat van die ander kant van die veld af gehardloop het, ingehaal en uitgeduik te word soos wat hy vir sy drie in die hoekie oor wou duik. Affies wen 25-22.
In 2012 het ’n sterk AfFie-span by die Wildeklawer-toernooi vroeg met 12-0 voorgeloop voor Paul Roos ’n briljante terrugveg poging geloots het en eindelik 32-22 gewen het. Dit was Paul Roos se eerste sege in vyf jaar oor die span van die Jakarandastad.
In 2013 het hierdie twee spanne mekaar nogmaals by die Wildeklawer toernooi ontmoet. Paul Roos het halftyd 10-0 voorgeloop voor Affies dié slag opvang rugby gespeel het met Jurie Linde aan die spits van die terugveg poging. Affies het Paul Roos puntloos in die tweede helfde gehou en 17-10 gewen op pad na ’n onoorwonne seisoen.
Vorige Kragmetings:
| 2013 | Affies | 17 | Paul Roos | 10 |
| 2012 | Paul Roos | 32 | Affies | 22 |
| 2011 | Affies | 28 | Paul Roos | 25 |
| 2010 | Affies | 18 | Paul Roos | 6 |
| 2009 | Affies | 25 | Paul Roos | 22 |
| 2008 | Affies | 17 | Paul Roos | 17 |
| 2007 | Paul Roos | 22 | Affies | 15 |
| 2006 | Paul Roos | 25 | Affies | 7 |
| 2005 | Affies | 19 | Paul Roos | 7 |
| 2000 | Affies | 31 | Paul Roos | 21 |
| 1999 | Paul Roos | 26 | Affies | 23 |
| 1992 | Paul Roos | 8 | Affies | 4 |
| 1979 | Paul Roos | 32 | Affies | 12 |
| 1978 | Affies | 32 | Paul Roos | 11 |
| 1976 | Affies | 15 | Paul Roos | 13 |
| 1952 | Paul Roos | 8 | Affies | 3 |
| 1946 | Affies | 6 | Paul Roos | 3 |
Die spanne is:
Paul Roos Gimnasium: 15 Joshua Vermeulen, 14 Troy Payne, 13 Nico Leonard, 12 Sebastian Uys, 11 Jason Myburgh, 10 Damien Willemse, 9 Tiaan Coetzee, 8 De Wet Castelyn, 7 Roelf Burger, 6 Dean van Tonder, 5 Joa Swart, 4 Louis Conradie, 3 Dre Calitz, 2 R Matthee, 1 Muammir Salie. Plaasvervangers: 16 Christiaan van Deventer, 17 Abrie Coetzee, 18 Stephan Annandale, 19 Lazlo Pschorn, 20 Malan Basson, 21 Jacques Hanekom, 22 Hein Steenkamp, 23 Adrian van Niekerk.
Affies: 15 Henco Jordaan, 14 Janco Booysen, 13 Louritz van der Schyff, 12 Eddie Fouché, 11 Christiaan Strydom, 10 Ruan de Swardt, 9 Jack Hart, 8 Eduan Lubbe, 7 Vic Meyer, 6 Phillip Krause, 5 Jaun Basson, 4 Ruben van Heerden, 3 Niell Bezuidenhout, 2 Schalk Erasmus, 1 Jano Espag. Plaasvervangers: 16 Cabous Eloff, 17 Viaan Mong, 18 Arno van Wyk, 19 Henk Pretorius, 20 Lombaard Grobler, 21 Divan Henning, 22 Jacobus van Staden, 23 Pieter Coetzer.
Puntemakers in vorige kragmetings (soos beskikbaar):
2013
Affies 17 (0) – Drieë: Jurie Linde, DP du Plessis. Doelskoppe: Ivan van Zyl (2). Strafdoel: Van Zyl. Paul Roos Gimnasium 10 (10) – Drie: André Yoko. Doelskop: Aiyden Cupido. Strafdoel: Cupido.
2012
Paul Roos Gimnasium 32 (14) – Drieë: Jason Worral, Ruan Rossouw, Pieta Smith. Doelskop: Worral. Strafdoele: Worral (5). Affies 22 (15) – Drieë: Andries van der Merwe, Calvin Allison, Pierre Schoeman. Doelskoppe: Allison (2). Strafdoel: Allison.
2010
Affies 18 (8) – Drieë: WJ Strydom (2). Doelskoppe: Warren Gilbert. Strafdoele: Gilbert (2). Paul Roos Gimnasium 6 (3) – Strafdoele: Gideon Meiring (2).
2009
Affies 25 – Drieë: James Marx, Mauritz Lombaard, Enzo Venter. Doelskop: Neil Bosman (2). Strafdoele: Bosman (2). Paul Roos Gimnasium 22 – Drieë: JP du Plessis (2), Craig Barry. Doelskoppe: Lucas Roothman (2). Strafdoele: Roothman.
2008
Paul Roos Gimnasium 17 (0) – Drieë: Reuben Johannes, Albert Marais, Tythan Adams. Doelskop: Nog Een. Affies 17 (9) – Drie: Reinhardt Fick. Strafdoele: Zandré du Bruin (4).




