SuperSport Schools Plus

Voorskou – Griekwa Bondedag

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-06-15

Die Vrystaatse Cravenweek-afrigters, Wessel du Plessis en Corné Erasmus, sal na vandag se kragmeting teen Griekwaland-Wes Platteland op Hoërskool Diamantveld se veld hier ‘n beter idée hê oor waaraan hulle die volgende paar weke gaan moet skaaf.

Du Plessis (Grey-kollege) en Erasmus (Louis Botha) ken feitlik al die spelers in die Vrystaatse span baie goed want buiten die losskakel, Tiaan Schutte, is al die spelers vanuit hulle skolespanne.

Die Plattelanders se SA Skole-flank, Cobus Wiese, sal ‘n goeie toets wees vir die lostrio van die Vrystaat wat uit Dian Schoonees, Jurie Burger en Jabulani Mtshatsheni bestaan. Burger maak ‘n terugkeer vanaf ‘n besering en sal na verwagting nie die volle wedstryd ingespan word nie. Hy behoort egter een van die Vrystaat se staatmakers op die 52ste Cravenweek in Stellenbosch te wees.

Die Plattelanders het in sy opwarmingsstryd teen Griekwas in die eerste meer as sy man gestaan, maar ‘n insinking in die tweede helfte beleef.

Die hoofwedstryd van die dag tussen die Cravenweek-spanne van Griekwas en die Griffons behoort vir heelwat vuurwerk te sorg. Griekwas se losskakel, Gerco Nortjé, sal met sy skopskoen ‘n belangrike rat in sy span se spelpatroon wees. Daar kan egter ook verwag word dat hy die bal lug kan gee om die span se twee haastige vleuels, Cameron Hufke en Jacques Beukes, soveel as moontlik in besit te stel. Hufke het vanjaar al gewys dat hy sekerlik onder die voorste vyf aanvallende vleuels in Suid-Afrika tel.

Die Perses behoort hulle kaarte styf teen hulle bors te hou, maar sal steeds nie ‘n span wees wat sonder handskoene gepak kan word nie. Veral die kombinasie van Danie Hendriks en Siyamamkela Nxgesha in die middelveld kan die Poubloues hoofbrekens besorg. Die slotpaar van die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad, Michiel Bosman en Ettienne O’Donovan, sal graag op hulle goeie vertonings vir hulle skoolspan vir die Griffons wil voortbou.

Die kragmetings tussen die onderskeie Akademie-spanne sal ook deur die keurders van die onderskeie unies met valkoë dopgehou word. Dié kragmetings dien nog as finale proewe en spelers in die spanne kan met uitstaande vertonings nog vir hulle plekke in hulle unies se Cravenweek-spanne oopspeel.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.