Viljoen se stewel haak knoop deur vir Monnas

Johannesburg – Hoërskool Monument se Justin Viljoen het sy span tot ‘n belangrike sege oor Helpmekaar Kollege gesool.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).
Krugersdorp se Witbulle het hul SDC Noordvaal Cup Beker-rekening met ‘n oorwinning van 31-25, weg van die huis af, oor Helpies geopen.
Viljoen, die besoekers se losskakel, het met sy korrelwerk na die pale ‘n beduidende aandeel in die span van Krugersdorp se oorwinning gehad. Hy het al vier sy span se drieë maklik verdoel en ook met ‘n strafdoel geslaag vir ‘n bydrae van 11 punte.
Sy akkurate skopwerk was waarskynlik ook die verskil tussen die twee spanne.
Die twee skrumskakels, Hanno du Toit (Monument) en Tristan van Niekerk (Helpmekaar) het hul onderskeie spanne se eerste drieë aangeteken, terwyl die Witbulle se uithalervleuel, Kealan Marais, kort voor rustyd ook gaan druk na ‘n skitterende lopie.
Na die omdraaislag het die Johannesburgers voet in die hoek gesit om ‘n indrukwekkende terugvegpoging te loods. Die tuisspan se bank het ongetwyfeld ‘n groot impak gehad, met ál drie hul drieë in die tweede helfte wat deur plaasvervangers behaal is.
Die aanskoulikste een was deur die plaasvervanger vleuel, Delano Maritz, toe hy, nes Marais, die verdediging met hope spoed aan die buitekant geklop het.
‘n Welverdiende drie, hoewel teen die verloop van die spel, deur die besoekers se steelkantflank en grootste uitblinker op die dag, RJ Barnard, het egter die momentum terug in die guns van die Witbulle geswaai. Daarmee het hulle die voortou geneem en verbete daaraan geklou vir die laaste 10 minute.
Helpies het genoeg geleenthede gehad om die kastaiings uit die vuur te probeer krap, maar ongedwonge foute, sowel as rotsvaste verdediging aan die kant van die Krugersdorpers, het die tuisspan se planne om ‘n sege in die doodsnikke te gaps in die wiele gery.
Puntemakers:
Monument 31 (17) – Drieë: Hanno du Toit, Kealan Milton, Juandre Marais, RJ Barnard. Doelskoppe: Justin Viljoen (4). Strafdoel: Viljoen. Helpmekaar 25 (7) – Drieë: Tristan van Niekerk, Delano Maritz, Darius Haasbroek, Siya Dyantyi. Doelskop: Wian Strom. Strafdoel: Storm.
Ander spanne:
o. 16: Helpmekaar 22, Monument 19.
o. 15: Monument 13 Helpmekaar 11.
o. 14: Monument 25, Helpmekaar 12.