Upington durf nuwe seisoen met jong span aan
Hoërskool Upington word beskou as een van die voorste netbalskole in die Noord-Kaap.
Met ‘n rekord wat boekdele spreek, het die skool se eerstespan deurgaans opslae gemaak op sowel provinsiale as nasionale vlak.
Verlede seisoen was geen uitsondering nie. Die eerstespan het ‘n tweede plek in die provinsie behaal. Dit het vir hulle deelname verseker in die Nasionale Kampioenskappe, waar hulle in die 22ste posisie geëindig het.
Ten spyte van die uitdagings van ‘n jong span, onder leiding van afrigters Christine Esterhuizen en Marlize Botha, strek die span se primêre doelwit verder as bloot om oorwinnings te behaal. Met slegs een matriekleerder in die span, fokus hulle daarop om die potensiaal van elke speler te verwesenlik en ‘n stewige grondslag vir toekomstige sukses te lê.
Uppies sien Hoërskole Duineveld en Diamantveld as hul twee vernaamste teenstanders binne die streek, in hul strewe om vanjaar die top-posisie in die provinsie te behaal.
Die span spog met talentvolle spelers, waaronder Liebe Karsten wat verlede die Top-35 o. 16-spelerslys gehaal het.
.