Tuine verras Helpmekaar in Beeldtrofee
Die eerste rugbyspan van die Hoërskool Tuine in Pretoria het vir die grootste opskudding in Saterdag se Beeldtrofee-kwarteindstryde gesorg deur die Helpmekaar-kollege van Johannesburg met 21-18 in die afdeling vir groot skole te klop.
Pennypinchers en Timbercity is medeborge van dié reeks.
Tuine se binnesenter, Jeandré Rossouw, het twee keer agter Helpies se doellyn gaan kuier. Sy pa, Naas Rossouw, is een van Tuine se breiers en hou die rekord vir die meeste eersterangse wedstryde vir die Valke. Hy het 158 keer vir hulle uitgedraf.
Helpmekaar het met lemoentyd met 15-14 voorgeloop. Tuine sal nou teen Transvalia in die halfeindstryd te staan kom. Transvalia was met 29-18 oor die Hoërskool Pietersburg baas.
Die Hoërskool Standerton het ook sy spiere in die grootskole-afdeling gebult en Hugenote van Springs met 47-28 verslaan. Die span se Cravenweek-vleuel, Mfundo Ndlovu, het twee keer agter Hugenote se doellyn gaan kuier.
Die Hoërskool Klerksdorp en Oos-Moot van Pretoria was in ’n titaniese stryd gewikkel wat eersgenoemde met 6-3 gewen het.
) In die afdeling vir medium-skole het die Lian Steynsburg van Brandwag in Benoni ’n skitterende vertoning met ’n driekuns van drieë afgerond. Brandwag het Barberton met 41-7 kafgedraf. Die span sal in die halfeindstryd teen Vryburg te staan kom.
Vryburg het self beïndruk met ’n oortuigende sege van 34-12 oor Bekker. Hans Strijdom kom in die ander halfeindstryd teen Wesvalia van Klerksdorp te staan.
) In die afdeling vir klein skole het Koster vir Curro Hazeldean met 35-14 verslaan. Die wenspan se buitesenter, Dolf Burger, en skrumskakel, AJ Hoffmann, het albei dubbele driedruk-plesier ervaar.
Koster sal nou teen Morgenzon in die halfeindstryd te staan kom. Heilbron, wat ook nie veel probleme ondervind het om Komatipoort met 36-18 te klop nie, sal Schweizer-Reneke in die ander halfeindstryd pak.
) Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria het sy onoorwonne rekord sedert 2008 teen Pretoria Boys’ High met ’n sege van 34-26 voortgesit. Die span se stut, DP du Plessis, het twee keer gaan gedruk.
- Standard Bank Festival Season to showcase tomorrow’s stars - 2025-03-27
- School Rugby Results – 22 March 2025 - 2025-03-22
- Grey-kollege bo in stiergeveg met die Wit Bulle - 2025-03-22