SuperSport Schools Plus

Thys trap diep spore in SA skolerugby

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-11-20

NewsG ThysBezuidenhoutThys Bezuidenhout se tydperk as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Skolerugby-vereniging (SASRV) word gekenmerk deur die samewerking wat hy tussen die SASRV en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) bewerkstellig het.

Bezuidenhout het twee termyne in die voorsitterstoel deurgebring voordat hy vanjaar die tuig neergelê het. Daar was nog altyd struwelinge tussen die SASRV en Saru, maar onder Bezuidenhout se voorsitterskap het die twee partye baie goed saamgewerk.

In dié tydperk het die Suid-Afrikaanse Skolespan slegs een keer teen Engeland (in 2014) die knie gebuig. “Die skole-sewesspan se verowering van die goud op die Statebond-Jeugspele in Samoa vanjaar was ook een van die hoogtepunte in my tydperk as voorsitter,” het Bezuidenhout gesê.

Daar kan nie betwyfel word nie dat Bezuidenhout diep spore in Suid-Afrikaanse skolerugby getrap het. Hy is sedert 1977 as keurder van die Leeus se Wes-streek betrokke. Hy was van 1989 tot 2000 sekretaris van dié vereniging, terwyl hy van 2001 tot vanjaar die voorsitter was.

By die Leeus se laerskole was hy sedert 1997 tot 2014 as keurder betrokke. Hy was ook die Leeus se sekretaris van 1989 tot en met 2000 voordat hy hier ook die voorsitterstoel in 2001 ingeneem het.

Hy was van 1982 tot 1988 ’n skeidsregter op die Cravenweek vir laerskole, terwyl hy ook die Goue Leeus se span na die toernooi van 1982 tot 1987 afgerig het.

Bezuidenhout het van 1996 op die SASRV se bestuur gedien. Hy was van 2008 tot 2011 die tesourier van die vereniging.

Hy het sedert 1982 al die Cravenweke vir laerskole bygewoon.

As hy vyf spelers moet uitsonder wat oor al die jare vir hom uitgestaan het, sal Corné Krige, Jean de Villiers, Jaque Fourie, Victor Matfield en Brendan Venter die lys haal.

“Soos ek nou meer daaroor dink, is daar baie ander wie se besondere talent ook reeds op laerskool duidelik sigbaar was. Spelers soos die Oostelike Provinsie se Jan Serfontein en Curwin Bosch. Bosch het ’n belowende toekoms wat op hom wag.

“Brendan was al van jongs af ’n denker oor die spel. Toe hy 13 was, het hy by die oefening aangekom met bewegings wat hy reeds uitgewerk het,” het Bezuidenhout gesê.

Hy dien ook sedert 2011 op die Goue Leeus se presidentsraad. Bezuidenhout beplan om steeds by rugby betrokke te bly.

Hy het in 1967 aan die Hoërskool Florida gematrikuleer waar hy twee jaar vir die skool se eerste span in die middelveld diens gedoen het.

Hy was self ’n leerling aan die Laerskool Bekker net buite Magaliesburg waar hy die afgelope 25 jaar die hoof was.

“Ek is dankbaar vir al die geleenthede wat ek oor die jare gekry het. Asook die vriende wat ek gemaak het.

“’n Mens sien plekke wat jy nooit andersins sou sien nie.”

Hannes Nienaber
Latest posts by Hannes Nienaber (see all)
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.