SuperSport Schools Plus

SWD en OP pak mekaar in die hoofwedstryd van #Cravenweek2014

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-07-18

MIDDELBURG. – Oostelike Provinsie het met sy eerste sege oor die Vrystaat sedert 1991 op die Cravenweek vir die eerste keer sedert 2005 sy plek in die hoofwedstryd van die toernooi bespreek.

Dié sege van 19-5 op die 51ste Cravenweek op HTS Middelburg se veld is ook die span van die Baai se grootste nog oor die Vrystaters sedert die onstaan van die toernooi in 1964.

OP en Suidwestelike Distrikte sal mekaar more in die hoofwedstryd van die toernooi pak. Dit sal die eerste keer sedert 2000 wees wat albei spanne wat in dié kragmeting betrokke is nie een van die Groot Vyf unies is nie.

In 2000 het die Pumas vir Boland met 19-18 in die hoofwedstryd geklop.

Die span van die Baai se binnesenter, Heino Bezuidenhout, het die Vrystaat met sy kraglopies hoofbrekens besorg. Die heelagter Keanu Vers, vleuel Athi Mayinje en losskakel Curwin Bosch het almal bygedra tot opwindende agterspel deur die wenspan.

Voor die senter, Julian Jordaan met sy drie sy span se enigste punte aangeteken het, het dit geblyk of die Vrystaters vir die eerste keer sedert 1994 nie daarin sou slaag om punte in ’n wedstryd aan te teken nie.

) Die Jukskei-derby is deur die Blou Bulle met 21-10 gewen. Hulle het die sege beklink omdat hulle daarin geslaag het om dié druk wat die Leeus op hulle in die tweede helfte geplaas het suksesvol te verwerk.

Die Leeus het die oorhand in die tweede helfte gehad en die Ligbloues kon nie ’n enkele punt in dié helfte aanteken nie. Die Rooibontes kon egter net een drie deur die kantman, Constant Beckerling, vir al hulle moeite in dié helfte wys.

) Griekwas het sy onoorwonne status op vanjaar se toernooi behou deur Boland met 38-27 die loef af te steek. Albei spanne het vier drieë gedruk met die skopskoen van die Poubloues se losskakel, Robbie Petzer. Hy het onder andere met die langste poging van sy loopbaan ’n strafdoel van 57 meter geslaag.

Die Poubloues is een van vyf spanne wat die laaste dag onoorwonne sal ingaan. Die ander vyf is Oostelike Provinsie, Suidwestelike Distrikte, die Griffons en die Luiperds.

Petzer het waarskynlik met sy vertoning in dié wedstryd vir hom ’n plek in die groep vir die SA Skole-proewe bespreek. Sy skakelmaat, Brandon de Melim, het self ’n uitstaande vertoning gelewer.

) Die Luiperds se buitesenter, Markus Coetzer, het met nog ’n kragtige vertoning gewis ’n paar regmerkies van die nasionale skolekeurders ontvang. Hy het 21 van sy span se punte in sy oorwinning van 26-20 oor die Valke aangeteken. Sy sentermaat, Stefan van Vuuren, het ook weer uistaande spel gelewer.

Vir die Valke het die heelagter, Martin van Wyk, ’n hele paar keer op die aanval gevaarlike lopies geloots.

) Namibië was stadig uit die blokke teen Grens-platteland en het teen rustyd slegs 24-0 voorgeloop, maar in die tweede helfte na ’n hoër rat oorgeskakel om uiteindelik met 69-0 te wen.

Die Biltongboere se agtsteman, Adriaan Booysen, het ’n driekuns aan drieë behaal. Grens-platteland het nou 165 punte in sy twee wedstryde afgestaan en nog nie ’n enkele punt aangeteken nie.

) More se bepalings is:

HTS Middelburg A-veld – 08:30: Pumas t. Leeus; 09:50: Westelike Provinsie t. Vrystaat; 11:10: KwaZulu-Natal t. Blou Bulle; 12:45: Suidwestelike Distrikte t. Oostelike Provinsie.

Hoërskool Middelburg A-veld – 08:30: Zimbabwe t. Namibië; 09:50: Griekwas t. Grens; 11:10: Griffons t. Luiperds.

Hoërskool Middelburg B-veld – 08:30: Griekwa-platteland t. Grens-platteland; 09:50: Boland t. Limpopo Blou Bulle; 11:10: OP-platteland t. Valke.

 

 

 

 

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.