Streeptruie en Leeus eerste keer sedert 1981 in hoofwedstryd van Cravenweek slaags
POLOKWANE. – Die Westelike Provinsie en die Leeus sal vandag hier vir die eerste keer in 32 jaar mekaar weer in die hoofwedstryd van die jaarlikse Cravenweek-toernooi vir hoërskole pak.
Die twee spanne het mekaar nog net twee keer in die hoofwedstryd die stryd aangesê sedert dié kragmeting in 1971 ingestel is. Die laaste van die twee kragmeting was in 1981 toe die Leeus as die destydse Transvaal die Streeptruie 11-7 getroef het. Die voormalige Springbok-flank Wahl Bartmann was in Transvaal se span, terwyl nog ‘n voormalige Bok die vleuel Kobus Burger vir Westelike Provinsie in aksie was.
Die enigste ander keer wat die twee spanne in die hoofwedstryd teen mekaar gespeel het was in 1973 toe Westelike Provinsie 36-7 met die louere weggestap het.
Die Streeptruie sal in vandag se stryd as die gunstelinge op die veld draf na hulle die Blou Bulle ‘n rekordnederlaag van 30-6 toegedien het. Die Leeus het die Vrystaat in die doodsnikke 20-19 geklop om die hoofwedstryd te haal.
Albei spanne sal egter beter wil vaar as hulle vorige pogings in die hoofwedstryd. Die Leeus is verlede jaar 46-0 deur die Blou Bulle in Port Elizabeth gekarnuffel en vanjaar is hulle derde agtereenvolgende keer wat hulle in die hoofwedstryd in aksie sal wees.
Die Streeptruie was laas in 2010 in Welkom in die hoofwedstryd en aan die ontvangkant teen die Vrystaat (42-21). Die tweestryd tussen die Streeptruie se binnesenter Daniel du Plessis en sy direkte teenstander Gerdus van der Walt kan een van die hoogtepunte in die wedstryd wees. Du Plessis is die seun van die voormalige Bok-senter Michael du Plessis. Sy naam behoort na afloop van die wedstryd uitgelees te word wanneer die nasionale skolespan aangekondig word. Sy oom die gewese Bok-vleuel, Carel du Plessis het in 1978 die SA Skole-span gehaal. Van der Walt se broer Jáko het in 2011 dié span gehaal, maar moes weens ‘n besering onttrek.
Die Vrystaat en die Pumas pak mekaar in die vernaamste voorwedstryd. Eersgenoemde se heelagter EW Viljoen, stut Ox Nche en flank Refiloe Rampeta is van die sterkste aanspraakmakers van hulle span om die nasionale skolespan te haal. Die Pumas se flank Daniël Maartens en vaskopstut Conrad van Vuuren het ook hulle hande met sterk vertonings gedurende die week opgesteek. Dié spelers kan met sterk vertonings vandag hulle plekke in dié span verseker.
Vandag se bepalings:
A-veld: 09:15: Zimbabwe t. Namibië; 10:45: Grens t. KwaZulu-Natal; 12:15: Blou Bulle t. Suid-Westelike Distrikte; 13:45: Vrystaat t. Pumas; 15:15: Westelike Provinsie t. Leeus.
B-veld: 09:15: Limpopo Blou Bulle t. Oostelike Provinsie-platteland; 10:45: Griffons t. Boland; 12:15: Oostelike Provinsie t. Valke.
C-veld: 09:15: Griekwas t. Grens-platteland; 10:45: Griekwas-platteland t. Luiperds.
- Oakdale impresses as King Price Derby Series delivers exciting entertainment - 2025-06-09
- BOYS | School Hockey Results – 7 June 2025 - 2025-06-07
- GIRLS | School Hockey Results – 7 June 2025 - 2025-06-07