Spelers word reeds op skolevlak gesmoor
Die talent van Suid-Afrikaanse rugby word reeds op skoolvlak gesmoor.
Dit is die mening van die legendariese Springbok-losskakel Naas Botha.
“Is dit nie miskien tyd vir ons afrigters om die kinders wat talent het te laat speel en die spelpatroon so bietjie weg te pak nie,” het Botha gesê.
Botha was een van die gassprekers op die bekendstelling van die Virseker Beeldtrofee wat Dinsdag op die Bronberg-landgoed net buite Pretoria gehou is.
“Ons het die naweek gesien hoe Grey-kollege vir Affies geklop het. Die gehalte van die rugby wat gespeel en die vaardighede wat die spelers ten toon gestel is, is net ongelooflik.”
Grey-kollege het die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria met 53-29 op sy agterplaas verslaan.
“Ek hoop hierdie is beste van al die seisoene wat daar nog in die kompetisie was. Dat die beter rugby vanjaar gespeel sal word.”
Botha het self goeie herinneringe toe hy as leerling van die Hoërskool Hendrik Verwoerd in die 1970’s aan die Administrateursbeker, soos die kompetisie toe bekend gestaan het, deelgeneem het.
Botha vertel ook dat die “koop” van spelers nie ’n nuwe ding is nie en dat die voormalige Springbok-skrumskakel Dirk de Vos hom genader het om Affies toe te kom.
Botha was met sy skopskoen die grootste rede hoekom Hendrik Verwoerd vir Affies in 1975 uit die kompetisie geskakel het.
Hy voel ook dat die verskoning dat die wenmotief te groot in kompetisie-rugby nie gronde het om op te staan nie.
“Jy daag elke Saterdag op om iemand te klop of jy aan ’n kompetisie deelneem of nie. As jy nie opdaag om iemand te klop nie kan jy maar by die huis bly. Die kompetisie sou nie al vir solank oorleef het as dit nie goed was nie.”
Daar word al sedert 1920 om die Virseker Beeldtrofee meegeding wat voorheen ook as die Beeld Noordvaal Trofee, Beeldtrofee, Administrateursbeker en die Direkteurstrofee bekend gestaan het.
“Die manne in die Kaap dink anders en hou nie van kompetisies nie. En daar is niks fout daarmee nie, maar daar is ook niks daarmee fout om ’n kompetisie soos dié in plek te hê nie,” het Botha gesê.
Volgens Botha is dié kompetisie die belangrikste kompetisie op skolevlak in Suid-Afrika.




