SuperSport Schools Plus

Spanne beindruk op Sasol Noordvaal Bondedag

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-06-29

SASOLBURG. – Twee blitsige drieë en ’n reuse strafdoel van ongeveer 60 meter deur die Vrystaatse o.18-rugbyspan het die wind in die eerste helfte uit die seile van sy eweknie van die Blou Bulle geneem.

Die twee spanne het mekaar in die vernaamste voorwedstryd van die jaarlikse Noordvaal Bondedag in die DP de Villiers-stadion hier gepak.

Die vinnigste speler wat nog ooit deur SA Rugby oor 40 meter getoets is, Llewellyn Hein, het met sy eerste van twee drieë die toeskouers om die paviljoen behoorlik na hulle asems oor sy ongelooflike vaart laat snak. Die Vrystaatse vleuel het kort daarna weer hakskene vir die Ligbloues gewys.

Die Vrystaat het die kragmeting met 31-21 gewen. 

Toe die wenspan se heelagter, Louwtjie Steenkamp met ’n strafdoel vanuit sy eie halfgebied slaag om sy span ’n voorsprong van 24-0 met die omdraaislag te gee, was die Blou Bulle met hulle rue teen die muur.

Die Ligbloues se SA Skole-flank, PJ Toerien het egter in die tweede helfte die vonk verskaf wat nodig was. Die Bulle was ongetwyfeld die beste span op die veld in die tweede helfte.

Die Vrystaat het boonop Hein (enkel) en die ander vleuel Patrick Mbangi (knie) vroeg in die tweede helfte aan beserings verloor.

) Die span van KwaZulu-Natal het danksy ’n strafdoel deur sy kaptein, Tristan Tedder, met die laaste aksie van sy kragmeting teen die Leeus met 22-20 as oorwinnaars uit die stryd getree.

Die twee spanne het mekaar behoorlik opgekuil en die Leeus se verdediging het amper die sege aan hulle besorg. Toe Tedder van die plaasvervangerbank op die veld in die tweede helfte gekom het, het sy besluitneming ’n reuse verskil in sy span se vertoning teweeg gebring.

Hoewel Curtis Jonas self ’n goeie vertoning in die eerste helfte op losskakel opgedis het. Die Piesangboere se heelagter Morné Joubert, agtsteman Jaco Coetzee en flank James Venter het ook gewys dat hulle spelers is om dop te hou tydens vanjaar se Cravenweek in Middelburg (Mpumalanga).

Die Leeus se Wikus van Biljon het met sy taktiese skopwerk beïndruk, sowel die manier hoe hy sy agterlyn seepglad weggestuur het.

) In die hoofwedstryd van die dag het die gasheer, die Valke die Pumas met 36-30 verslaan.

Die Valke se agtsteman, Warren Brits, was aan die spits van sy span se sege. Hy het die aanvoorwerk vir sy span se eerste twee drieë gedoen. Die Pumas se agtsteman, Oscar Schuld, was self ’n yster.

) Die vleuel van die Griffons, Nazo Nkala, is ‘n speler om dop te hou tydens vanjaar se Cravenweek. Nkala het op die aanval verwoesting in sy span se sege van 48-20 oor die Limpopo Blou Bulle gesaai. Hy het twee drieë gedruk en telkens gaan werk soek.

Die Perses is ook die volgende wys dat hulle plaasvervanger-skrumskakel, Jason Olivier, soos sy eerstekeuse in dié posisie Jaywinn Juries ’n speler van gehalte is. Olivier het die verloorspan se verdedigers om die losskrums besig gehou. Die proefneming of hulle Juries ook as heelagter kan inspan was ook geslaagd.

Limpopo se heelagter, Vandre Rolls, was sy span se beste speler in die kragmeting.

) Griekwas het gesukkel in die begin van sy kragmeting teen die Luiperds, maar toe die span eers sy ritme vind hy hy gemaklik met 34-7 as oorwinnaars van die veld gestap.

Die Luiperds het vroeg met 7-0 voorgeloop en dit het gelyk of die Poubloues ‘n lang dag in Sasolburg kan beleef. Die span se skrumskakel, Brandon de Melim, het egter die vonk verskaf wat die gang van die wedstryd in sy span se guns geswaai het. Buiten De Melim was die span se vleuel, Wilfred Bowers, met sy vaart en vermoë om verdedigers met sy voetwerk te klop ‘n doring in die Luiperds se vlees.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.