So staan sake in die Beeldtrofee se Groot Skole-afdeling
Wanneer die eerste rugbyspanne van die Hoërskool Randburg en Hoërskool Linden vandag om 12:45 op die veld draf in hul jaarlikse interskole wedstryd, is daar meer as net uitslag van dié derby op die spel.
Dié kragmeting op Randburg se tuisveld is ook die laaste van die rondomtalie-wedstryde van die Leeus se Groot skole-liga. Linden het bonuspunt-seges in elk van hul wedstryde sover vanjaar behaal.
Randburg het op sy beurt weer net teen Bastion met 15-13 die knie gebuig.
Indien hulle die kragmeting wen, sal Randburg egter bo Linden op die puntelys eindig. Die span spog met ’n beter punteverskil as Linden. Dit beteken die twee spanne sal mekaar weer in die halfeindstryd van die liga die stryd aansê.
Die wenner van dié halfeindstryd sal tot die Beeldtrofee deurdring. Pennypinchers en Timbercity is medeborge van dié reeks.
Verloor Randburg egter vandag se stryd, sal hy sake uitspook teen Helpmekaar in die halfeindstryd van die Leeus-streek. Randburg se sleutelspeler sal hulle Cravenweek-stut, Franco van der Berg, wees. Hy kan Linden hoofbrekens besorg met sy kraglopies. Randburg sal Linden se losskakel, Kyle Lues, fyn moet dophou.
Mpumalanga se Groot skole pak mekaar vandag in die kwarteindrondes van die liga. Op Ligbron se velde in Ermelo sal die tuisspan sake om 13:20 teen Oosterland uitspook. In die ander halfeindstryd om 12:00 op dié veld pak Standerton en Generaal Hertzog mekaar.
Die ander twee kwarteindstryde word by Hoërskool Ermelo beslis. Ermelo speel om 13:20 teen Secunda vir ’n plek in die halfeindstryd, terwyl Piet Retief en Volksrust om 12:00 sake in die ander kwarteindstryd uitspook.
In die Luiperds se afdeling vir Groot skole sê Hoërskool Klerksdorp en Lichtenburg mekaar om 12:15 in Klerksdorp in ’n belangrike kragmeting die stryd aan. Albei het verlede week oortuigende seges behaal teen onderskeidelik Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool in Potchefstroom.
Die spanne is:
Hoërskool Randburg: 15 Vuyo Shongwe, 14 Reinardt de Wet, 13 Jeandré van Schalkwyk, 12 Gareth Kramer, 11 George Robinson, 10 Ruben Jacobs, 9 Christoff Buys, 8 Shaun Hulley (kaptein), 7 Brandon Baker, 6 Donovan Otto, 5 Le Roux Joubert, 4 Armand Kruger, 3 Joshua Erasmus, 2 André Bezuidenhout, 1 Franco van der Berg.
Hoërskool Linden: 15 Brandon Lizamore, 14 Andy Venter, 13 Dyllan van Tonder, 12 Ryan Johst, 11 Morné van den Berg, 10 Kyle Lues, 9 Philmar de Wet, 8 Brendon Schutte, 7 Christiaan Botha, 6 Ruan Murray, 5 Pascal Snyman (kaptein), 4 Jason Carlse, 3 Wayne van der Merwe, 2 De la Rey van Heerden, 1 Jean Rabie.
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16
- IEB Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-15
- Rondebosch finish the prestigious Peninsula Festival as the only unbeaten side - 2025-01-12