SuperSport Schools News

Skolerugby-seisoen word ontwrig deur SA Skole oefenkamp

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-03-14

NewsG MarnusPotgieterDie skolerugby-seisoen word vanjaar nog meer deur die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) se planne vir die SA Skole-span ontwrig. Die afgelope paar jaar het die SA Skole-rugbyspan se wedstryde ‘n hele paar groot skole-wedstryde ontwrig, terwyl Saru vanjaar nog ‘n hele paar wedstryde met ‘n ondeurdagte oefenkamp sal ontwrig. 

Saru het ‘n oefenkamp van 17 tot 21 Maart by die Hoërskool Hugenote in Wellington gereël en dit ontwrig ‘n hele paar skolespanne se wedstryde wat Saterdag plaasvind. Die Wes-Kaapse seisoen het nog nie afgeskop nie, maar slegs 15 van die 50 spelers wat na die oefenkamp genooi is, is van die provinsie.

Boonop kan die besluit deur Saru om ‘n oefenkamp so lank voor die Coca-Cola Cravenweek te hou ‘n hele paar spelers oor hul kanse om later vanjaar die nasionale skolespan te haal laat wonder. 

Dit is veral die kragmeting tussen Helpmekaar-kollege en die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria wat erg ontwrig word. Helpmekaar sal sonder sy invloedryke kaptein en flank, Mark Snyman, moet klaarkom. Wat die wedstryd nog meer belangrik vir Helpies maak is die feit dat die jaargroep van hulle nog nie sedert o.14 op hul tuisveld in Johannesburg die knie gebuig het nie.

Albei skole stoot vanjaar gedugte eerstespanne in die veld en die uitslag van die wedstryd kan ‘n groot impak op albei se seisoen he. Affies sal sondersy senter Marnus Potgieter en losvoorspeler Jaco Labuschagne die wedstryd moet speel. Potgieter het verlede Saterdag ‘n driekuns aan driee in sy span se eerste wedstryd van die seisoen teen Diamantveld behaal.

Die kragmeting tussen die Virseker Beeldtrofee Makroskole-kampioen, Garsfontein, en EG Jansen van Boksburg is ongetwyfeld die wedstryd in vanjaar se groepfase van die Tuks-reeks om nie mis te loop nie. Die wedstryd sal ook ontwrig word. Garsies sal sonder sy senter Diego Appollis die wedstryd ingaan, terwyl EG Jansen sonder sy losskakel, Ruben Beytell, sal moet speel.

Die Jansies word dalk die meeste deur die oefenkamp geraak met Beytell wat die wedstryd sal misloop. Beytell was verlede jaar een van die voorste driedrukkers op eerstespan-vlak in Suid-Afrika. Hy was vroeer vanjaar ook ‘n lid van die SA Skole-sewesspan wat in Namibie as kampioen van die Capricorn Group-toernooi gekroon is.

In nog ‘n Tuks-wedstryd sal Monument van Krugersdorp heelwat ontwrigting ervaar met vyf van sy spelers wat nie op Emirates Airline-park (Ellispark) teen Eldoraigne in aksie sal wees nie. Die haker Morne Brandon, slot Cristen van Niekerk, flank PJ Jacobs, skrumskakel Tinus Combrinck en heelagter Dandre Prinsloo sal almal in Wellington wees terwyl hul span in die Goudstad in aksie is.

Die wedstryd tussen Monnas en Eldoraigne is ‘n voorwedstryd vir die SuperRugby-wedstryd tussen die Leeus en Reds. 

Grey-kollege van Bloemfontein speel gelukkig nie Saterdag nie. Die rugbyfabriek van Suid-Afrika het vier spelers die senters Rikus Pretorius en Janco van Heyningen, heelagter David Kriel en die losskakel Christopher Schreuder wat na die oefenkamp genooi is.

Welkom Gimnasium sal teen Louis Botha sonder sy heelagter Andrew Kota en senter Keith van Aswegen moet klaarkom. Boonop sal die span se vleuel Wian van Staden die wedstryd weens ‘n besering misloop. Van Staden moes toe Kota saam die SA Skole-sewesspan in Namibie was sy skoene volstaan.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.