SuperSport Schools Plus

Sean Erasmus verlore vir Boishaai

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2018-03-04

NewsG SeanErasmusDie suksesvolste skolerugbyspan in Suid-Afrika die afgelope drie jaar, die Hoër Jongenskool Paarl, se hoofafrigter, Sean Erasmus, gaan nie sy kontrak met die skool na afloop van die 2018-seisoen verleng nie. Erasmus sal hom op 1 November by die Goue Leeus aansluit. 

Erasmus rig sedert 2014 Boishaai se eerstespan af na hy van Glenwood in Durban na die Paarl verhuis het. Daar is nog nie uitsluitsel oor wat Erasmus se pligte by die Leeus sal behels nie. 

Die Leeus wou al verlede jaar Erasmus se dienste bekom het, maar hy het besluit dat hy die Boishaai-skip deur die belangrike 2018-seisoen wil deursien. 

Boishaai vier vanjaar sy 150ste bestaansjaar. Die skool bied vanjaar ‘n World Schools Festival aan waar van Suid-Afrika se voorste skolespanne teen skolespanne van regoor die wereld sal deelneem. Die eerste rugbyspan van Boishaai het sedert 2015 nog nie in Suid-Afrika die knie gebuig nie. Die span het wel verlede jaar op toer deur Nieu-Seeland teen Christchurch Boys’ High die knie gebuig. 

Erasmus hert Glenwood in 2008 tot kampioen van die jaarlikse Sanix-toernooi in Japan gebrei. In 2014 het Boishaai onder sy breierskap naelskraaps in die eindstryd van die toernooi teen Hamilton Boys’ High (11-15) die knie gebuig. 

Erasmus sal glo ook vanjaar die SA Skole-span se hoofafrigter wees. Hy was sedert 2015 by die afrigting van die nasionale skolespanne betrokke. Hy was in 2015 die SA Skole-span se hulpafrigter onder Hein Kriek. In 2016 was hy die SA Skole A-span se hoofafrigter en verlede jaar het hy weer ‘n hand by die uitsoekspan bygesit. Die SA Skole-span word sedert 2016 deur Lance Sendin van Hugenote in Wellington gebrei. 

Hoewel daar geen uitsluiting is oor wie die leisels by Boishaai by Erasmus sal oorneem nie, het die skool vroeër vanjaar vir André Tredoux as hulpafrigter aangestel. Erasmus se hulpafrigter die afgelope vier jaar, Elmo Wolfaardt, het einde verlede jaar ‘n pos as hoof van rugby by Klein Boishaai aanvaar. Tredoux was die afgelope paar jaar die Docomo Red Dragons in Japan se verdedigingsafrigter.  

Hannes Nienaber
Latest posts by Hannes Nienaber (see all)
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.