SuperSport Schools Plus

School of Rugby se Toekennings vir 2017

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-09-18

NewsGAbnervanReenenDie skolerugbyseisoen van 2017 het heelwat hoogtepunte opgelewer. Die vertonings van die SA Skole-span in die internasionale reeks teen Engeland, Frankryk en Wallis sal egter heelwat van die goeie herhinneringe uit die geheue van ondersteuners vee wanneer hulle in die toekoms na vanjaar verwys.

School of Rugby het besluit dit sal gepas wees om die seisoen met ‘n paar toekennings af te sluit.

Speler van die Jaar – Abner van Reenen (Hoër Jongenskool Paarl)

Die grootste toekenning is ons Speler van die Jaar wat aan Paarl Boishaai se losskakel, Abner van Reenen, gaan. Hy het die seisoen op heelagter vir Boishaai begin, maar na ‘n besering aan die span se losskakel, Boeta Chamberlain, het hy as ‘n ware generaal na vore getree. Van Reenen het Boishaai ‘n hele paar keer met sy aanvallende vernuf uit die moeilikheid gehelp.

Van Reenen het 180 punte gedurende die seisoen aangeteken wat 15 drieë ingesluit het. Hy het verlede jaar nog vir Garsfontein in Pretoria uitgedraf en was in verlede jaar se Virsekerbeker Beeldtrofee se eindstryd met ‘n rooikaart van die veld gejaag.

Ander spelers wat sterk aanspraakmakers vir die toekenning was, is Mark Snyman (Helpmekaar, flank), Cristen van Niekerk (Monument, slot), Stephan van der Bank (Nelspruit, losskakel) en Christopher Schreuder (Grey, losskakel).

Afrigter van die Jaar – Tjaart van der Walt (Monument)

Ons toekenning vir die afrigter van die jaar gaan aan Tjaart van der Walt van Monument in Krugersdorp. Van der Walt het Monnas na hul eerste titel as kampioen van die Virsekerbeker sedert 2009 gebrei. Hy het Garsfontein in die vorige drie jaar tot die eindstryd van die kompetisie gelei waarvan hulle in 2015 en 2016 ook die trofee omhoog gehou het.

Van der Walt se Wit Bulle het deurentyd goed vertoon slegs twee keer in sy 20 wedstryde teen Eldoraigne (27-22) en Boland Landbou (24-22) die onderspit gedelf. Monnas het tweede op School of Rugby se ranglys geëindig. Monument het nog nooit ‘n onoorwonne seisoen beleef nie.

Die skool wat in 1921 gestig se eufeesvieringe is om die draai en die Monumentare sal na Van der Walt se eerste seisoen aan stuur breed glimlag oor die vooruitsigte.

Verrassing van die Jaar – Centurion

Die rugbyspan van Centurion het vir die verrassing van die seisoen gesorg deur EG Jansen van Boksburg met 33-26 in die kwarteindronde van die Virsekerbeker uitgeskakel het.

Dit was boonop die eerste keer ooit dat Centurion tot die halfeindronde van die Virsekerbeker (voorheen Beeldtrofee en Administrateursbeker) kon vorder.

Boonop is die span tot die nuwe hoogtes gelei deur ‘n inspirerende kaptein, Lian Botha. Hy is drie jaar gelede met limfklier kanker gediagnoseer, maar het vanjaar reeds genoegsaam herstel om in die 400m-hekkies op die B-bond Interhoër-atletiekbyeenkoms goud te verower en natuurlik sy skool se eersterugbyspan tot nuwe hoogtes te lei.

SACS wat sy eerste sege oor Paarl Gimnasium (22-19) sedert 1996 behaal verdien ook eervolle vermelding, terwyl Selborne College ook dieselfde lengte droogte teen Grey-kollege verbreek het.

SACS se breier Nick Maurer was kaptein van die span wat in 1996 vir Gimmies getroef het.

Skolespan van die Jaar – Hoër Jongenskool Paarl

Die span van die jaar moet aan die Hoër Jongenskool Paarl na die skool se eerstespan vir die derde agtereenvolgende jaar daarin geslaag het om sy seisoen in Suid-Afrika onoorwonne af te sluit.

Boishaai se sege van 18-13 oor Paarl Gimnasium was sy 50ste agtereenvolgende oorwinning in Suid-Afrika. Die span van die Paarl het vanjaar wel op sy toer deur Nieu-Seeland teen Christchurch Boys’ High met 38-36 verloor.

Die span wat deur Sean Erasmus gebrei word het ‘n nuwe standard daar gestel en beklee vir die derde jaar op ‘n streep die boonste posisie op School of Rugby se finale ranglys.

Die SA rekord vir die langste onoorwonne rekord behoort aan Niemand anders as Grey-kollege nie. Die Bloemfonteiners se eerstespan was tussen 1985 tot in 1991 vir ’n ongelooflike 87 agtereenvolgende wedstryde onoorwonne.

Grey was ook tussen 2000 en 2004 vir 79 agtereenvolgende wedstryde onoorwonne gewees.

Grootste terugvegpoging van die Jaar – Outeniqua

Die span wat vanjaar die meeste karakter gewys het, is waarskynlik die Kwaggas van Outeniqua. Die span wat deur Abré Minnie afgerig word het ‘n moeilike eerste helfte van die seisoen beleef met nederlae teen Affies (34-0), Menlopark (51-30) en Stellenberg (43-38). Die span het daarna die ommekeer van die jaar beleef.

Hy het sy seisoen teen HTS Drostdty (26-21) omgekeer en daarna sewe wedstryde op ‘n streep gewen om uiteindelik in die 15de posisie op School of Rugby se ranglys te eindig.

Die seges oor Paarl Gimnasium (27-24) en Framesby (36-15) sal nog lank onthou word. Die span se losskakel, James-Henry Mollentze, se spelpeil het beslis ‘n rol in die Kwaggas se terugvegpoging gespeel. Hy het 228 punte gedurende die seisoen opgestapel.

Dawid onder die Goliats – St Andrew’s College (Grahamstad)

Gepraat van spanne met hope veggees. St Andrew’s College van Grahamstad sou nie deur baie teenstanders as een van die voorste spelers in die land gereken geword het nie.

Die span het egter in twee opeenvolgende Saterdae vir Selborne College (26-5) en Grey High (41-36) die loef afgesteek. Dit was Grey van Port Elizabeth se eerste nederlaag van die seisoen, terwyl Selborne die vorige week sy eerste sege sedert 1996 (20-19) oor Grey College behaal het.

Saints is daarmee ons Dawid wat vanjaar ‘n paar Goliats neergetrek het.

Grootste teleurstelling van die Jaar – SA Skole-span

Die grootste teleurstelling van die jaar behoort aan die SA Skole-span wat nie in een van sy drie wedstryde teen Frankryk, Engeland en Wallis die pyp kon rook nie. Die spelpatroon wat die bestuurspan op besluit het moet ook bevraagteken word. Voor vanjaar se reeks het die SA Skole-span sedert 2010 slegs twee keer teen Engeland die knie gebuig.

Die feit dat spanne se verdediging tydens die Cravenweek verdag was, het sonder twyfel ook bygedra in die SA Skole-span se geploeter. Vanjaar se SA Skole-span was volgens sy vertonings diev swakste sedert die span die eerste keer in 1974 gekies is.

Span wat nie aan sy vermoë voldoen het nie – Boland Landbou

‘n Span wat nie aan die verwagtinge voldoen het nie is Boland Landbou wat ‘n sterk aanspraakmaker was om onder die voorste tien spanne in die land te eindig. Die span van die Agter-Paarl het egter ‘n paar keer vasgeval wanneer hy nie moes nie.
Die span moes sy wedstryde teen Oakdale Landbou (14-12), Framesby (19-16), SACS (22-18) en Garsfontein (43-41) gewen het. Die span se beste oorwinning van die jaar was op sy agterplaas teen Paarl Gimnasium (24-15).

Nuweling onder die Groot Honde – Stellenberg

Stellenberg van Kaapstad verdien ‘n toekenning as die nuweling (tussen die tradisionele sterk skole) van die jaar. Die skool se eerstespan het vanjaar nie net saam met die groot honde geblaf nie, maar ook ‘n hele paar keer hard gebyt.
Stellenberg was steeds vanjaar in die WP se Premier B-afdeling, maar het Premier A-skole soos Rondebosch Boys’ High (33-21) en Wynberg Boys’ High (47-5) slae gegee. Die #JadeBrigade was ook meer as mededingend teen Bishops (29-28), Paarl Gimnasium (31-19) en Boland Landbou (35-34) alhoewel hulle hy aan die verloorkant in die wedstryde was.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.