SuperSport Schools Plus

Sannies en Fichies belangrike tweestryd

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-05-17

SATERDAG is die belangrikste dag in die rugbyseisoen vir die rugbyspanne van Hoërskool Sand du Plessis en Hoërskool Fichardtpark. Sannies het vanjaar sy terugkeer tot die Vrystaatse A-liga gemaak en sal op sy tuisveld teen Fichies mik om sy eerste oorwinning en waarskynlik sy enigste in dié liga te behaal.

‘n Oorwinning in dié wedstryd sal egter vir albei skole van uiterste belang wees. Fichies se hulpafrigter, Diaan Neethling was in 2008 kaptein van Sannies se eerstespan. Sy afrigter daardie jaar, Roy Doubell is steeds Sannies se breier, met Chris Kleynhans as sy medeafrigter. Kleynhans het in 2003 Sannies se eerstes aangevoer.

Grey-kollege sal vandag teen Sentraal op laasgenoemde se tuisveld na sy nederlaag verlede week teen Affies van Pretoria wil vergoed. Tralies het verlede week ook teen Jim Fouché tweede gekom, maar die tuisspan sal gewis nie dié stryd net gewonne oorgee nie.

In die Noord-Vrystaat is die kragmeting tussen Hentie Cilliers van Virginia en Witteberg van Bethlehem die hoofmaal van vandag. Die wedstryd wat op Virginia beslis word beloof om hope vuurwerk op te lewer.

Witteberg is nog onoorwonne in die liga en Henties, die verdedigende kampioen, het al teen Voortrekker die knie gebuig.

Die wedstryd tussen Riebeeckstad en Hennenman in die Sandveld-liga op eersgenoemde se tuisveld is ‘n belangrike stryd vir albei spanne. Die wenner sal heel moontlik saam met Bothaville regstreeks tot die halfeindstryd van dié liga deurdring, terwyl die verloorder eers ‘n kwarteindstryd teen die kwalifiseerders van die Sandveldse B-liga sake vir ‘n plek in die halfeindstryd sal moet uitspook.

Griekwas hou hulle proefwedstryde op Diamantveld in Kimberley vandag. Die Poubloues speel vanjaar die dou van die gras af in die eerste wedstryd van die eerste dag van die Cravenweek vir hoërskole in Polokwane.

Vandag se bepalings is (tuisspanne eerste vermeld):

10:30: Reitz t. Harrismith; 10:50: Cherries t. Louis Botha; 11:20: Hoërskool Bloemfontein t. Zastron; 12:00: Ficksburg t. Vrede; 12:00: Hentie Cilliers t. Witteberg; 12:15: Riebeeckstad t. Hennenman; 12:15: Theunissen t. Sandveld; 12:20: Bothaville t. Wessel Maree; 12:30: St. Alban-kollege t. St. Andrew; 13:10: Sentraal t. Grey-kollege; 13:10: Sand du Plessis t. Fichardtpark.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.