SuperSport Schools Plus

Sake begin nou besigheid se kant toe staan in die Beeldtrofee

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-06-20

Sake begin nou in die verskillende streke van die Beeldtrofee se Groot skole-ligas na ’n punt toe te kom.

Al die streke se halfeindstryde, buiten dié van die Luiperds en Pumas, word more gespeel. Pennypinchers en Timbercity is medeborge van dié reeks.

In die Limpopo-halfeindstryde by HTS Tom Naudé kom Frikkie Meyer om 14:00 teen Ben Vorster te staan. Laasgenoemde was verlede jaar die Beeldtrofee se mediumskole-kampioen.

In die ander halfeindstryd sal Hoërskool Pietersburg en Piet Potgieter sake uitspook.

In die afdeling vir mediumskole sal die wenner van die kragmeting tussen Ben Viljoen en Eric Louw tot die eindstryd van die streek deurdring.

) In die Leeus-streek pak die groot skole mekaar more in die halfeindstryde op Hoërskool Linden se veld. Die gasheer sê Bastion in die hoofwedstryd van die dag om 13:45 die stryd aan. Linden het die twee spanne se ligawedstryd met 38-24 gewen.

Hoërskool Randburg het ’n tawwer taak wat op hom wag om die eindstryd te haal. Die span pak die gedugte Helpmekaar om 12:20 wat een van die vroeë gunstelinge is om die Beeldtrofee in te palm.

) In die Valke-streek vind die halfeindstryde van die Groot skole more op Dr. Malan in Meyerton se velde plaas. Transvalia en Driehoek speel in die eerste halfeindstryd om 12:15 teen mekaar, terwyl Hugenote van Benoni en Heidelberg Volkskool in die ander halfeindstryd om 13:30 slaags sal wees.

Dié streek se Medium- en Middel-skole se halfeindstryde word op die Hoërskool Stoffberg in Brakpan beslis. In die Middel-skole veg Voortrekker van Boksburg en Parys sake om 09:55 vir ’n plek in die eindstryd uit. Die ander halfeindstryd word om 11:20 tussen Primrose en Belvedere beslis.

In die hoofwedstryd van die dag om 14:10 sê die gasheer vir Hoërskool Sasolburg die stryd aan, terwyl Brandwag van Benoni en HTS Sasolburg in die ander halfeindstryd van die Medium-skole slaags is.

Heilbron is deur tot die eindstryd van die Klein-skole na Noorderlig onttrek het.

) Die Blou Bulle se halfeindstryde van die Groot skole word ook more beslis. Die wedstryde word op Hoërskool Oos-Moot gespeel.

Pretoria-Noord speel teen Hoërskool Tuine in die eerste halfeindstryd om 11:40: Pretoria-Noord het in die spannende liga-wedstryd tussen die twee spanne verlede week 23-17 as oorwinnaars van die veld gestap. In die ander halfeindstryd om 13:10 pak Oos-Moot en Overkruin mekaar.

) In die Puma-streek sal die kwarteindstryde van die Groot skole more in Ermelo beslis word.

Op Ligbron se velde kom die gasheer om 13:20 teen Oosterland in die een kwarteindstryd te staan, terwyl Standerton om 12:00 ’n aanslag van Hoogenhout moet afweer om tot die halfeindstryde deur te dring.

Op Hoërskool Ermelo se hoofveld behoort die wedstryd tussen die gasheer en Secunda om 13:20 ’n riller uitklopstryd te wees. Piet Retief en Volksrust speel om 12:00 in die ander kwarteindstryd op die veld.

) Hoërskool Vryburg speel in die eindstryd van die Luiperds se Medium skole teen Hoërskool Wesvalia more om 12:30 op sy tuisveld.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.