SA skole-kleure wink vir Perses se Nkala
SASOLBURG. – Die Griffons het Saterdag op die jaarlikse Noordvaal-Bondedag in die DP de Villiers-stadion hier gewys dat hulle vanjaar weer ’n goeie Cravenweek-toernooi vir hoërskole kan beleef.
Die span se twee afrigters, Kassie Kasselman en Roean Bezuidenhout, sal ondanks hul oortuigende sege van 48-20 oor die Limpopo Blou Bulle nog heelwat skaafwerk voor die 51ste Cravenweek in Middelburg (Mpumalanga) aan die span doen.
Veral die skrums behoort, wanneer die span weer saamtrek, heelwat aandag te geniet. Die span se skrum was deurentyd onder druk in die wedstryd.Dit het egter nie die plaasvervanger-skrumskakel van die span, Jason Olivier, wat die wedstryd begin het, gekeer om ’n spoggerige vertoning te lewer nie. Sy aangeewerk was van hoogstaande gehalte, terwyl hy ook heelwat vrae aan Limpopo se verdediging gevra het.
Gepraat van Limpopo se verdediging. Dit was nou nie juis watwonders nie, maar dit neem niks van die Perses se sege weg nie.
Die span se vleuel, Nazo Nkala, kan vanjaar, indien hy voortbou op sy huidige spelpeil, dalk aanspraak maak om die nasionale skolespan te haal.
Hy het twee van sy span se drieë gedruk en het ’n hele paar keer op die ander vleuel afgehardloop. Benewens die feit dat hy heeltyd gaan werk soek het, was hy ook ’n hele paar keer baie naby daaraan om ’n driekuns aan drieë te voltooi.
Kobus Kleyn, wat as vleuel van die plaasvervangersbank opgekom het, het self twee bewegings kort ná mekaar vir die Griffons gaan afrond.
Die twee skrumskakels van die span, Jaywinn Juries en Jason Olivier, het ook met hul spel beïndruk. Juries het in die eerste helfte op heelagter as proefneming diens gedoen. Die proefneming het geslaag, maar Olivier het gewys dat hy self ’n speler van gehalte is.
Juries het in die tweede helfte weer die oond gaan skoonmaak en Olivier se vertoning in die eerste helfte het hom moontlik aangevuur tot sy uitmuntende vertoning.
Albei skrumskakels se aangeewerk was van hoogstaande gehalte, terwyl hulle ook Limpopo se verdedigers om die losskrums laat bontstaan het.
Die losskakel, Tokkie van Zyl, kan self tevrede met sy vertoning voel.
Limpopo se skrumskakel, Diederik Oberholzer, en heelagter, Vandre Rolls, het goeie vertonings gelewer.
Hulle het ’n hele paar vrae aan die Griffons se verdediging gevra.