SuperSport Schools Plus

SA Skole kies drie nuwe keurders vir 2014

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-10-19

DIE Vrystaatse Cravenweek-span vir 2014 sal ‘n nuwe breier vir die toernooi vir hoërskole in Middelburg hê. Die span is vanjaar deur Roelf Meyer en Dirkie Groenewald afgerig. Meyer van Grey-kollege is vroeër dié week as een van die nuwe Suid-Afrikaanse Skole-keurders verkies.

Die sentrale streek se twee SA Skole-keurders, Johan Vorster (Sentraal) en André Vorster (Hentie Cilliers) het vanjaar die tuig neergelê. Dié streek het egter steeds twee keurders op die panel. Danie Slabbert van Daniëlskuil is ook tot die nuwe keurkomitee verkies. Slabbert is ook Griekwaland-Wes se hoërskole vereniging se voorsitter.

Meyer sal weens sy verkiesing nie die Vrystaatse Cravenweek-span volgende jaar kan brei nie. Nog ‘n Vrystater Josie O’Brian is as addisionele lid tot die Suid-Afrikaanse Skole-rugbyvereniging (SASRV) verkies. Die SASRV se voorsitter Thys Bezuidenhout van die Leeus in onbestrede herkies.

Die Vrystaatse Hoërskole-rugbyvereniging (VHSRV) se jaarvergadering vind op 29 Oktober plaas. Die vereniging se voorsitter, Michael Barker sal onbestrede in sy pos herkies word.

Die grootste verandering wat moontlik op skolerugby in Suid-Afrika vir 2014 wag is dat spanne 23 spelers na die nasionale weke sal neem. Die spanne sal ‘n volle voorry op die plaasvervangersbank moet kies sowel as ‘n speler wat slot ook kan speel. Die SASRV sal die besluit nog met die Suid-Afrikaanse Rugby-unie bespreek om die ekstra kostes aan die besluit te bespreek.

Die Vrystaat sal volgende jaar teen die Leeus in sy eerste wedstryd van die Cravenweek te staan kom. Die Cravenweek-span sowel as die Akademie-week se span is vierde in die land gegradeer. Die Akademie-span sal teen die Westelike Provinsie in sy eerste wedstryd op die nasionale week sake uitspook.

Die Suid-Afrikaanse Skole-komitee vir die volgende ampstermyn:
Voorsitter – Thys Bezuidenhout (Leeus); Onder-voorsitter (hoërskole) – Noël Ingle (KwaZulu-Natal); Onder-voorsitter (laerskole) – Gerald Njengele; Tesourier – Jackie Tredoux (Blou Bulle); Sekretaris – Hendrik Janse van Rensburg (Oostelike Provinsie); Addisionele Lede – Joshua du Plessis (LSOB), Josie O’Brian (Vrystaat), Katiso Mosiuoa (Grens), Granville Joseph (SWD), Gerrit Rudolph (SWD). Keurders – Henkie Green (Boland, sameroeper), Roelf Meyer (Vrystaat), Nollie de Beer (Pumas), Dennis Karelse (SWD), Danie Slabbert (Griekwas), Johan Calitz (Limpopo Blou Bulle).

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.