SuperSport Schools Plus

SA Skole draf Wallis maklik op George kaf

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-08-19

Die Suid-Afrikaanse Skole-rugbyspan het gister die vuur só teen die Rooi Drake gestook dat hulle bestuurspan met ’n warm patat sit oor wie om vir Saterdag se wedstryd teen Engeland te kies.

Die nasionale skolespan het Wallis se o.18-span met 40-15 op Outeniquapark in George gekarnuffel. Die Engelse moes verlede week spook om die Rooi Drake met 24-21 onder te kry.

Die SA Skole-breier, Hein Kriek, en die nasionale o.20-afrigter, Dawie Theron, sal gewis na gister se kragmeting kop krap oor wie om Saterdag in Stellenbosch in te span en wie om weg te laat.

Die moeilikste keuse wat op hulle wag is wie die skakelpaar teen die Engelse sal wees. Die Ligbloues se Cravenweek-skakelpaar van Embrose Papier en Tinus de Beer was teen Wallis uitstaande. Dit terwyl die losskakel Curwin Bosch een van die span se sterre verlede week in die sege van 28-13 oor Frankryk was. Die ander skrumskakel in die groep, Marko Janse van Vuren, het ervaring aan sy kant omdat hy reeds verlede jaar ’n lid van die span was. Sy speelstyl sal waarskynlik beter by Suid-Afrika se spelstyl pas wat hulle na verwagting teen Engeland sal volg.

Papier het die aanvoorwerk met ’n perfekte aangee in die eerste minuut van die kragmeting gedoen vir die slot, Ashton Fortuin, se drie. Hy het self ook gaan druk na die slot, Eduard Zandberg, vanuit die tuisspan se halfgebied weggebars het en net kort voor die doellyn platgetrek is.

De Beer het met sy spel goed afgewissel en met sy skopskoen 20 van sy span se punte aangeteken.

In die eerste helfte was daar net een span op die veld. Die Suid-Afrikaners het meeste van die balbesit geniet en die feit dat besoekers sewe strafskoppe afgestaan het, het hulle saak besleg. De Beer het vier van dié strafskoppe deur die pale gejaag.

Die buitesenter, Heino Bezuidenhout, het die beseerde Morné Joubert in die groep vervang en met sy spel in die middelveld beïndruk. Die wenspan het Wallis in die fisieke aspekte van die spel oorheers en Zandberg, die agtsteman Edmund Rheeder en flank Arnold Gerber verdien die meeste lof hiervoor.

Wallis het hulle twee drieë in die laaste vyf minute van die wedstryd as troos gedruk.

Puntemakers:

SA Skole 40 (26): Drieë: Ashton Fortuin, Heino Bezuidenhout, Embrose Papier, JT Jackson. Doelskoppe: Tinus de Beer (4). Strafdoele: De Beer (4). Wallis o.18 15 (3): Drieë: Owen Watkin, Josh Middleton. Doelskop: Dan Jones. Strafdoel: Jones.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.