SuperSport Schools Plus

SA Rugby se speelstyl moet verander

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2016-07-14

Die speelstyl van Suid-Afrikaanse spanne is ook vir die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ’n kopseer.

Die president van Saru, Oregan Hoskins, het tydens ’n geleentheid op die 53ste Cravenweek vir hoërskole ’n beroep op die skoleafrigters van die land gemaak om te help dat die land se spanne uit die kettings hul tradisionele speelstyl breek.

“Ek dink ons as Suid-Afrikaners weet dit het tyd geword dat ons stop om deur ’n muur te probeer hardloop en liewer om die muur te probeer nael,” het Hoskins gesê.

Die Sharks se breier Gary Gold, die voormalige Springbok-hulpafrigter en senter Dick Muir asook die gewese Bok-senter en rugbyghuru Brendan Venter het die afgelope paar weke kritiek oor die afrigting op skolevlak uitgespreek.

Die wenmotief het volgens hulle ook te belangrik op skolevlak geraak. Dit was egter duidelik op die eerste drie dae van die Cravenweek dat afrigters op dié vlak nie soveel klem op verdediging lê as wat die breiers van proffesionele span doen nie.

Die eerste drie dae van die toernooi het 136 drieë in 15 wedstryde opgelewer. Dit is bykans ongelooflike tien drieë per wedstryd. Skolerugby lewer steeds van die mees opwindende rugby weekliks in Suid-Afrika op.

Hoskins het die feit benadruk dat afrigters op skolevlak ’n uiters belangrike rol in die ontwikkeling van spelers asook die spel in Suid-Afrika speel. Die Springbokke se laaste drie breiers Allister Coetzee, Heyneke Meyer en Jake White was almal eers onderwysers voor hulle die belangrikste afrigtingspos in die land beklee het.

“Ek doen ’n beroep op die skoleafrigters om ons asseblief te help om ons styl van rugby te verander. Dit kan ongelukkig nie bo begin nie, dit moet by die afrigting op skolevlak begin,” het Hoskins aan die Cravenweek-afrigters gesê.

Suid-Afrika se sterk skolesisteem speel ’n groot rol om die Springbokke een van die voorste spanne in wêreldrugby te hou. En die onderwysers wat as afrigters en administrateurs by skolerugby betrokke is speel ’n beduidende rol in die sukses.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.