Rusties blitsig uit die blokke, Pietie-boulers aan die brand
Hoërskool Rustenburg het nie op hom laat wag om sy stempel deeglik af te druk in vanjaar se Kovsie Smash nie.
Herleef al die aksie op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Die Rusties se kaptein, Thian Labuschagne, het Oos-Moot se boulers gewys waar Dawid die wortels gegrawe in die span van Noordwes se gemaklike oorwinning met 41 lopies.
Labuschagne, wat die beurt vir sy span geopen het, het sy 60 lopies teen ‘n bestendige pas aangeteken en in slegs 47 aflewerings die bal nie minder nie as agt keer grens toe gestuur, waarvan vier anderkant die grenstou grondgevat het.
Hendre Robinson het goeie ondersteuning gebied, met sy hardloopwerk tussen die paaltjies wat die Oosies deurlopend onder druk geplaas het. Die vennootskap met sy kaptein het 76 lopies, waarvan hy 31 bygedra het, opgelewer en die Rusties tot ‘n stewige 136/6 in moeilike kolftoestande gehelp.
Die Oosies se Danie Corbett se harde werk met die bal is nietemin goed beloon en hy het aan die einde van ‘n akkurate boulskof met syfers van 3/19 gespog. Sy kolwers kon egter nie die Rusties se kordaatstukke met die kolf naboots nie.
Dit was te danke aan puik vertonings met die bal deur Henlo van Rooyen (2/3) en Augie Behrens (2/17), wat die Pretoriaaners tot slegs 95/9 in die toegelate 20 beurte beperk het.
Hoërskool Pietersburg se boulers het weer die vaandel gedra in die span van Limpopo se tweede oorwinning op die eerste dag. Hierdie slag was dit Duan van Staden wat van voor gelei het om in slegs 2.2 beurte Hoërskool Upington se stert te knoop met syfers van 3/10, terwyl Dian Gouws (3/20) en Stephan Swanepoel (2/10) ook weer uitgeblink het met die bal.
Ruann Esterhuizen was vir die tweede keer op Dag 1 ‘n uitblinker met die kolf, maar sy 33 was Upington se enigste noemenswaardige bydrae en hy moes later toekyk hoe die Pieties die teiken van 96 met gemak haal in die 16de beurt, vir ‘n oorwinning met vyf paaltjies.
Goudveld Hoërskool en Sentraal moes, weens die ongure weer, sake in ‘n verkorte wedstryd van 10 beurte uitspook. Dit het sake des te interessanter gemaak en Goudveld moes spook om met agt lopies die pyp te rook.
Die span van Welkom se aanvangsbouler, Kamohelo Moloke, het sy span ‘n aansienlike hupstoot gegee met boulsyfers van 3/7 in die twee beurte wat hy afgevuur het.
In Sentraal se bouldepartement het Aldo Bezuidenhout die bul by die horings gepak en Goudveld se voorslagkolwer, Bul Rademeyer (18), een van sy drie slagoffers gemaak. Erik Prinsloo het hom netjies bygestaan met syfers van 2/10, maar dit was nie genoeg om die Gouties te stuit nie.
Beknopte telkaarte:
Hoërskool Rustenburg 136/6 (Thian Labuschagne 60, Hendre Robinson 31; Danie Corbett 3/19); Oos-Moot 95/9 (Anthony Schwan 16*; Henlo van Rooyen 2/3, Augie Behrens 2/17). Hoërskool Rustenburg wen met 41 lopies.
Hoërskool Upington 95 (Ruann Esterhuizen 33; Duan van Staden 3/10, Dian Gouws 3/20, Stephan Swanepoel 2/19); Hoërskool Pietersburg 97/5 (Hanru Marais 27*, AJ Galloway 25; Aiden Lukumbi 2/16). Hoërskool Pietersburg wen met ses paaltjies.
Goudveld 62/8 (Bul Rademeyer 18; Aldo Bezuidenhout 3/19, Erik Prinsloo 2/10, Reshe Wales 2/14); Sentraal 54/7 (Janre Bornman 14; Kamohelo Moloke 3/7, Christiaan van der Westhuizen 2/11). Goudveld wen met agt lopies.