Rustenburg palm tweede titel in Hoërskole Sewes-reeks in
Die Hoërskool Rustenburg se sewes-rugbyspan het Saterdag sy tweede titel as kampioen van een van die Hoërskole Sewes-reeks se toernooie in Benoni ingepalm.
Rustenburg het die gasheer van die 11de en laaste been van die reeks, Brandwag van Benoni, met 21-12 in die Beker-eindstryd verslaan. Die Rusties het reeds tydens die toernooi wat hulle aangebied het, hul plek in volgende week se Kampioen van Kampioene-toernooi bespreek.
Dit beteken dat Brandwag ‘n uitnodiging sal ontvang om aan die Kampioen van Kampioene-toernooi by Camp Discovery, net noord van Pretoria, by te woon.
Die Kampioen van Kampioene-toernooi vind Vrydag en Saterdag by Camp Discovery plaas.
Drie spanne was in aksie op die toernooi in Benoni wat reeds vir dié naweek se toernooi gekwalifiseer het. Hulle is Waterkloof, Montana en Rustenburg.
Waterkloof het sy rieme in die halfeindronde teen die uiteindelike kampioen met 19-12 styfgeloop. Brandwag het Montana in die ander halfeindstryd met 21-14 uitgeskakel.
Montana het die been gewen wat deur Merensky in Tzaneen aangebied is, terwyl Klofies as kampioen van die toernooi gekroon is, wat deur Bergvlam in Mbombela aangebied was.
Die ander kampioene wat die naweek in aksie sal wees is Goudveld-Hoërskool van Welkom, Durban High School, Glenwood, Noordheuwel van Krugersdorp en Paul Roos Gimnasium.
Brandwag van Benoni, Diamantveld van Kimberley en Westville Boys’ High van Durban sal as die promotor se keuses aan die toernooi deelneem.
Welkom-Gimnasium het ook ‘n uitnodiging as promotors-keuse ontvang. Daar word verwag dat die span van Welkom teen Maandag ‘n besluit sal neem oor sy deelname aan die toernooi.
Wat die besluit bemoeilik is die feit dat die Griffons se o.20-rugbyspan tot die eindstryd van die Saru o.20-kampioenskap deurgedring het. Die eindstryd vind Vrydag plaas en Gimmies se Andrew Kota en Ulrich Stander speel ook vir die Perses. Kota en Stander is sleutelspelers vir Gimmies se sewesspan wat in die eindstryd van die Bloemfontein-been van die reeks gelykop teen Louis Botha gespeel het.
Gimmies se twee afrigters, Roean Bezuidenhout en Jacques Juries, is ook die breiers van die Perses se o.20-span.
Al die uitslae:
Groep A: Rustenburg 53, Cosmo City 0; Nylstroom 36, Cosmo City 0; Rustenburg 50, Nylstroom 0.
Groep B: Oryx 7s 24, Hans Moore 22; Waterkloof 47, Oryx 7s 0; Waterkloof 40, Montana 0.
Groep C: Hoërskool Alberton 36, Krugersdorp High 7.
Groep D: Brandwag 38, Edenvale High 0; Montana 17, Brandwag 12; Montana 48, Edenvale 12.
Kwarteindronde – Beker: Rustenburg 52, Oryx 7s 0; Waterkloof 53, Nylstroom 0; Brandwag 21, Hoërskool Alberton 17; Montana 40, Krugersdorp High 0.
Halfeindronde – Bowl: Hans Moore 40, Cosmo City 0; Edenvale dring regstreeks deur tot eindstryd. Plaat: Oryx 7s 33, Nylstroom 24; Hoërskool Alberton 24, Krugersdorp High 19. Beker: Rustenburg 19, Waterkloof 12; Brandwag 21, Montana 14.
Eindstryde – Skild: Krugersdorp High 56, Cosmo City 7. Bowl: Hans Moore 36, Edenvale High 5. Plaat: Hoërskool Alberton 33, Oryx 7s. Beker: Rustenburg 21, Brandwag 12.




