Rooiskool bo met rekordtelling
Die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad het seker gemaak dat indien Saterdag die laaste interskole tussen Rooi en Blou was dat dit een sal wees wat hulle vir altyd sal onthou.
Rooiskool het die grootste interskole in die sentrale streek met ’n rekordtelling van 80-10 gewen. Die span se losskakel, Chappies van der Walt, het 35 punte opgestapel. Hy het ’n driekuns aan drieë behaal en ook al tien sy doelskop-pogings tussen deur die pale gejaag. Rooies het besluit om sy ander twee drieë nie pale toe te korrel nie.
Die wenspan se agtsteman, Dian de Beer, het ook vier keer oor die doellyn geskuif. Die span se flank At van der Berg, slot CJ Jordaan en binnesenter, Martin Heyns, het ook goeie vertonings gelewer.
Daar is sprake dat Blouskool volgende jaar na die Sandveld-liga wil afskuif. Dit is nie bekend hoe dié skuif die jaarlikse interskole tussen die twee skole sal beinvloed nie.
Welkom Gimnasium se skrumskakel, Richman Gora, het in sy span se sege van 22-10 oor Voortrekker op laasgenoemde se tuisveld in Bethlehem gewys hoekom hy in die SA Skole-span ingesluit is.
Gora was met sy twee drieë die grootste doring in die Trekkers se vlees. Hy sal gewis deur Gimmies in die uitkloprondes gemis word. Die Trekkers se haker, Tiaan van Zyl, het met sy inklimspel beindruk.
HTS Welkom het Goudveld-Hoërskool behoorlik die skrik op die lyf in hulle kragmeting gejaag. Gouties het die wedstryd uiteindelik met 29-19 gewen.
Die Tekkies het met die omdraaislag ’n voorsprong van 12-5 geniet.
Gouties se agttal het die oorhand in die tweede helfte bewerkstellig, maar die Tekkies het genoeg kanse gehad om vir ’n opskudding te sorg.
Die wenspan se heelagter, AJ Jacobs, het twee keer in die tweede helfte gaan druk om sy span van ’n sege te verseker.
Hentie Cilliers het met 59-12 teen HTS Sasolburg oortuigend as wenners van die veld gestap. Die span van Virginia se stut CJ Sheppard en flank Damian Karelse het voorlangs die pap dik aangemaak, terwyl die senter Ruben Pretorius die span se beste agterspeler op die dag was.
Witteberg en Wilgerivier van Frankfort was in ’n hewige stryd gewikkel. Die Wittes het uiteindelik met 28-25 geseëvier. Wilgerivier het ’n paar minute na rustyd ’n voorsprong van 25-7 opgebou.
Voorlangs het die slot Johannes van Graan en stut JW Meades goeie spel vir die wenspan gelewer. Agterlangs kan die vleuel Jan-Herman van Straaten, heelagter, PJ Jonker, en die losskakel, George Spershott, tevrede met hul vertonings voel.
Harrismith en Reitz sal mekaar in die Oos-Vrystaatse eindstryd pak. Harrismith het Ficksburg met 17-12 in die halfeindronde geklop. Reitz het sy halfeindstryd teen Vrede met 12-10 gewen.
Hennenman het Wessel Maree van Odendaalsrus in ’n klipharde wedstryd met 12-10 getroef om sy plek in die Sandveld-liga se eindstryd te bespreek. Hennenman sal teen Bothaville in die eindstryd te staan kom.
Puntemakers:
AHS Kroonstad 80 (35): Drieë: Dian de Beer (4), Chappies van der Walt (3), Marinus Aucamp (2), Martin Heyns (2), Ivan Otto. Doelskoppe: Van der Walt (10). Hoërskool Kroonstad 10 (0).
Welkom Gimnasium 22: Drieë: Richman Gora (2), Duke Jantjies. Doelskoppe: Andrew Kota (2). Strafdoel: Kota. Voortrekker 10: Drieë: Michael Janse van Rensburg, Tiaan van Zyl.
Witteberg 28 (6): Drieë: Jason Roux, Johannes van Graan, Louis Oosthuizen, Quintin Mostert. Doelskoppe: George Spershott (4). Wilgerivier 25 (7): Drieë: Corjan Muller, Juan Jordaan, Christiaan Jooste. Doelskoppe: Cobus Erasmus (2). Strafdoele: Erasmus (2).
Goudveld-Hoërskool 29 (5): Drieë: AJ Jacobs (2), Leon van der Walt, Triumph Baloyi, Craig Colby. Doelskoppe: Jacobs (2). HTS Welkom 17 (12): Drieë: Adrian Olivier, Vusi Khanyawa, Slate Douse. Doelskoppe: Stompie Hanaba (2).
Hentie Cilliers 59: Drieë: Jovanian du Preez (2), Calvin Meyer, William Hendricks, Dealin Jafta, Damian Karelse, CJ Sheppard, Morné Mkwayi, Winrich Kennedy. Doelskoppe: Du Preez (4), Jafta (2), Hendricks. HTS Sasolburg 12: Drieë: Carel Haasbroek, JC Schultz. Doelskop: Sherwin October.
Hennenman 12 (7): Drieë: Armand van der Walt, Neels Pretorius. Doelskop: Albé Venter. Wessel Maree 10 (3): Drie: Tian Potgieter. Doelskop: Potgieter. Strafdoel: Potgieter.
Reitz 12: Drieë: Janes van Coller, Ruben Kriel. Doelskop: Neil van der Merwe. Vrede 10.
Harrismith 17: Drieë: Tobatsie Monareng (2), Wayden Ruiters. Doelskoppe: Siza Mthembu (2). Ficksburg 12.
Sandveld 26: Drieë: Chris Marais, David Marais, Christo Reyneke, Strafdrie. Doelskoppe: David Marais (3). Welkom Sekondêr 12.




