SuperSport Schools Plus

Rooi Bulle speel nie; deur tot laaste agt

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2014-08-01

HTS Middelburg se eerste rugbyspan is die eerste span wat vir vanjaar se kwarteindronde van die Beeldtrofee vir Makro-skole kon kwalifiseer.

Pennypinchers en Timbercity is medeborge van dié reeks.

Die Rooi Bulle moes vandag teen Vereeniging Gimnasium uitspeel om te bepaal wie teen Monument van Krugersdorp in die kwarteindstryd te staan sou kom.

Gimmies het hulle egter aan dié kragmeting onttrek.

Die Hoërskool Rustenburg pak om 12:30 op sy tuisveld vir Menlopark.

Dié wenner van die kragmeting sal teen die verdedigende kampioen, EG Jansen, in die kwarteindstryd te staan kom.

Kemptonpark draf om 12:15 op sy tuisveld teen Waterkloof uit om te bepaal wie Hoërskool Nelspruit in die kwarteindstryd pak.

Die ander uitspeelwedstryd in die Makro-afdeling is dié tussen Florida en Centurion om 11:15 op eersgenoemde se tuisveld.

* In Thabazimbi kom Frikkie Meyer om 10:10 op sy tuisveld te staan teen Hugenote van Springs in ’n uitspeelwedstryd in die afdeling vir Groot-skole.

Hugenote en Transvalia het Dinsdag met 29-elk gelykop in die eindstryd van die Valke-reeks gespeel.

Hugenote het die reeks as die Valke se voorste span betree nadat hy die eerste drie in dié wedstryd gedruk het.

Volksrust is gasheer van sy uitspeelwedstryd om 11:00 teen die verdedigende kampioen van dié afdeling, Transvalia.

Die Blou Bulle se naaswenner, Oos-Moot, moet op sy tuisveld om 11:00 verby Hoërskool Linden kom as hy sy plek in die kwarteind wil bespreek.

Helpmekaar moet na Lichtenburg reis waar hy om 11:15 teen die Liggies te staan sal kom. Die wenner van dié kragmeting sal teen die Blou Bulle se kam­pioen, Hoërskool Tuine, sake in die kwarteindstryd uitspook.

* Die getal Klein-skole wat aan die reeks deelneem, het gekwyn. Daar is slegs een uitspeelwedstryd in dié afdeling met Morgenzon en Balfour wat mekaar die stryd aansê.

Die wenner sal in die kwarteindstryd teen Curro Heuwelkruin speel.

* In die nuwe afdeling vir Middel-skole pak Pretoria THS en Alberton High mekaar in ’n uitspeelwedstryd.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.