Preview – Louis Botha vs. Jim Fouché
LOUIS BOTHA sal more se Vrystaatse A1-liga eindstryd sonder sy twee Suid-Afrikaanse Skole-spelers, die stut Ox Nche en flank Refiloe Rampeta, ingaan. Sy teenstander in die eindstryd, die Hoërskool Jim Fouché mik daarna om ‘n driekuns aan titels te voltooi.
Die twee skole oorheers die Vrystaatse liga sedert Grey-kollege in 2007 nie meer in aanmerking vir ‘n plek in die eindstryd kom nie. Jim Fouché was in 2007, 2008, 2011 en 2012 kampioen van dié liga. Louis Botha het in 2009 na die voorste liga van die unie opgeskuif en met die kroon weggestap en is ook die jaar daarna as kampioen gekroon.
Louis Botha sal sonder sy twee nasionale skolespelers steeds as die gunsteling more op die veld draf. Sonder Nche en Rampeta het die span nog heelwat sterre om Jim Fouché tot oorgawe te dwing. Veral die span se agterhoede met die losskakel Luke Cyster aan die spits behoort vir JF problem te besorg.
Buiten Cyster sal veral die senter Ali Mgijima en vleuel Sheldon Fortuin die probleme vir Jim Fouché op die verdediging gee. Al sewe agterspelers van Louis Botha het al vir die Vrystaat op die Cravenweek verteenwoordig. Mgijima was een van die mees ongelukkiges om nie die Suid-Afrikaanse Skole-span te haal nie. Boonop was die span se veelsydige agterspeler wat op die plaasvervangerbank sit, Patrick Mbangi ook ‘n lid van die Vrystaatse Cravenweek-span na die 50ste toernooi in Polokwane vroeër vanjaar.
Jim Fouché se sleutelspeler is sy senter, Carel-Jan Coetzee. Hy is sterk op sy bene en het al verskeie spanne se verdediging met sy lopies vanjaar oop gekloof. Die span se kaptein PC Labuschagné en flank Tjibbe Spoelstra sal ook fyn deur Louis Botha dopgehou moet word.
Die span se slot Tjop Briedenhann se twee ouer broers Gys en Marnus Briedenhann het albei al provinsiale rugby vir onder meer die Griffons en Vrystaat gespeel.
Laaste vyf eindstryde van die Vrystaatse A1-liga:
2012 Jim Fouché 29, Sentraal 16
2011 Jim Fouché 24, Louis Botha 23
2010 Louis Botha 20, Sentraal 19
2009 Louis Botha 17, Sentraal 15
2008 Jim Fouché 42, Sentraal 7
Die spanne is:
Louis Botha: 15 Olwethu Ndakisa, 14 Masego Toolo, 13 Dale Koopman, 12 Ali Mgijima, 11 Sheldon Fortuin, 10 Luke Cyster, 9 Sharwin Cupido, 8 Whaseem Galant, 7 Themba Songelwa, 6 Thando Magalankanqoa, 5 Lebohang Mosala, 4 Victor Maruping, 3 Othello Sebotsa, 2 Grayden Benn, 1 Jermaine Achilles.
Jim Fouché: 15 Danneel Stone, 14 Thiardt Ingram, 13 Carel-Jan Coetzee, 12 Pieter Smith, 11 JP Steyn, 10 Ruan Wasserman, 9 Marco Vermeulen, 8 PC Labuschagné (kaptein), 7 Tjibbe Spoelstra, 6 JP van der Westhuizen, 5 Morné Griessel, 4 Tjop Briedenhann, 3 Zandré Pienaar, 2 Hanno Spies, 1 Eduan Wepener.
Skeidsregter: Pieter van Vuuren
Grensregters: Tiaan Steyn en Martin Lekhanya
Afskop: 13:00
- School Rugby Results – 17 May 2025 - 2025-05-17
- SDC Noordvaal Cup Results – 17 Mei 2025 - 2025-05-17
- Affies soek eerste sege in tien jaar teen gewonde Grey Kollege - 2025-05-16