SuperSport Schools Plus

Pretorius waarskynlik eerste Valk wat hoofwedstryd van Cravenweek blaas

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2013-07-13

POLOKWANE. – Daar sal beslis in vandag se hoofwedstryd van die 50ste Cravenweek vir hoërskole hier “reg en geregtigheid” geskied met die skeidsregter en prokureur Lihan Pretorius in beheer van sake.

Pretorius, van die Valke-unie, se vertonings tydens dié week het André Watson, die Suid-Afrikaanse skeidsregtersbaas, en sy paneel só beïndruk dat hy gevra is om in die nie-amptelike eindstryd van die toernooi te blaas. Die skeidsregter wat die beste op die week vertoon word hiervoor aangewys.

Dit Pretorius se eerste jaar as blaser by die Cravenweek.

“Ek het in my wildste drome nooit kon dink dat ek die hoofwedstryd by die Cravenweek sou blaas nie,” het Pretorius, wat oor twee weke sy 27 verjaarsdag vier, gesê.

“Dit voel vir seker soos ‘n vroeë verjaarsdag geskenk”.

Wanneer die Goue Leeus en die Westelike Provinsie vandag om 15:15 in die ou Peter Mokaba-stadion op die veld uitdraf sal Pretorius waarskynlik die eerste Valke-skeidsregter word wat die hoofwedstryd van dié week behartig.

“Dit is die eerste Valke-skeidsregter waarvan ek weet wat in die hoofwedstryd van die Cravenweek blaas,” het Watson, self ‘n oud-Valke blaser.

“Lihan het deur die week gewys dat hy op meriete verdien om in die hoofwedstryd te blaas. Daar was ander aanspraakmakers soos Jaco Kotze, maar Lihan se vertonings was die beste,” het Watson bygevoeg.

“Hy het sommer met die intrapslag in die wedstryd tussen die Bulle en die WP twee geelkaarte gegee, wat albei geregverdig was.”

Pretorius het benewens dié wedstryd ook die eerste kragmeting van dié toernooi tussen Griekwas en Zimbabwe behartig.

“Die week was beslis nie maklik nie. Ek het gevoel ek moes die toon van die toernooi in daardie eerste wedstryd aangee. Ek was voorheen al self ‘n televisie-wedstrydbeampte gewees, maar ek het Maandag vir die eerste keer self met ‘n televisieskeidsregter gewerk,” het Pretorius gesê.
Hy tree al vir die afgelope 15 jaar as skeidsregter op.

“Ek het as 12-jarige geluister na ‘n radioprogram waar André Watson gesels het. Ek het ingebel en hom gevra hoe oud jy moet wees om te kan rugby blaas,” vertel Pretorius.

Watson het Pretorius by sy huis kom besoek en hy is daarná ingeskryf as skeidsregter.

Hy het vanjaar boonop in sy eerste Varsitybeker-wedstryd én sy eerste Vodacombeker-kragmeting geblaas.

Albei tel onder sy hoogtepunte.

Pretorius hoop om eendag as blaser in die plaaslike Curriebeker-reeks uit te draf.

“Ek sal ook graag eendag ‘n ambassadeur vir Suid-Afrikaanse skeidsregters wil wees, deur byvoorbeeld ‘n toetsskeidsregter te word.”

 

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.