SuperSport Schools Plus

Pretorius breek weer Affie-harte en Monnas weer kampioen

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-05-07

NewsGMonnasTuksKampDie Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria se Wit Bulle het gestorm en geblaas, maar dit was net-net nie genoeg om Grey-kollege op sy agterplaas in Bloemfontein die loef af te steek nie.

Soos verlede jaar was ‘n speler met die naam, Rikus Pretorius, die grootste verskil tussen die twee spanne toe hy met ‘n strafdoel met speeltyd reeds verstreke geslaag het om die telbord 35-32 in sy span se guns te laat lees.

Hy het 25 van sy span se punte via twee drieë, drie doelskoppe en drie strafdoele aangeteken. Pretorius was verlede jaar ook die held toe Grey die eerste span in die geskiedenis geword het om ‘n vyftigtal teen Affies (53-29) aan te teken.

Die uitslag van die wedstryd het deurgans wipplank gery en met vyf minute se speeltyd oor was Affies in die saal. Grey se vleuel Henk Cilliers het met net minder as twee minute se speeltyd oor gaan druk, met die doelskop deur Pretorius wat die telling op 32-elk gelyk getrek het.

Affies het by die afbreekpunte die botoon gevoer asook in die lynstane. Die Wit Bulle se agtsteman, Philip Potgieter, en die haker en kaptein, Johan van Zyl, het skitterend vertoon.

Monument van Krugersdorp het sy titel as kampioen van die Tuks-reeks behou deur EG Jansen van Boskburg gemaklik met 50-13 in die eindstryd in die LC de Villiers-stadion in Pretoria te verslaan.

Monnas het met twee drieë in dié drie minute voor rustyd, een elk deur sy senters, Luke Rossouw en Juandré Breytenbach, die wedstryd van die Jansies weggeneem.

Monnas het veral by die afbreekpunte fisiek oorheers wat die agterlyn instaat gestel het om agterlangs te baljaar. Die haker, Morné Brandon, het soos gewoontlik voorlangs ingeklim. In die agterhoede het die kampioen se losskakel, Jonathan Viljoen, senter Luke Rossouw en die heelagter, Dandré Prinsloo, blink vertonings gelewer. EG Jansen se flank, Jonathan O’Neill, verdien ook vermelding vir sy kanniedood houding tydens die eindstryd.

In die Baai was dit so hittete of Grey High School was sy onoorwonne status kwyt in sy Premier Interschools-wedstryd teen Paul Roos Gimnasium. Die span van die Eikestad moes die knie 20-22 in die doodsnikke buig na hy laas in 2014 (27-26) teen Grey PE die knie moes buig.

Grey PE het die sege danksy ‘n drie deur sy plaasvervanger-agterspeler Kholiwe Konza in die doodsnikke beklink. Die span van die Baai het destyds in 2014 ook in die doodsnikke danksy die skopskoen van ‘n ene Curwin Bosch vir Paul Roos van ‘n oorwinning beroof.

Die Brandwag van Uitenhage het sy oorheersing sedert 2013 teen HTS Daniël Pienaar se Tiere in hulle Classic Clash beklemtoon. Brandwag het die Tiere met 55-10 kafgedraf.

Sedert die twee skole se interskole as ‘n Classic Clash bekend staan kon HTS Daniël Pienaar nog net drie keer in 2006, 2007 en 2012 die pyp rook. Vir die wenspan het sy agtsteman, Elandré Smit, losskakel Chadwin November en skrumskakel, Chad Adams, uitstekend vertoon. November is ook ‘n begaafde krieketspeler. Hy het verlede jaar ‘n driekuns paaltjies vir Noord-Kaap tydens die Khaya Majola-week ingeoes.

Marlow Landbou het in Bloemfontein vir Jim Fouché in hulle jaarlikse interskole met 48-12 die loef afgesteek. Die Wolramme van net buite Cradock het teen rustyd reeds met 22-12 voorgeloop.

In Japan het Framesby van Port Elizabeth in die kwarteindronde van die jaarlikse Sanix-toernooi teen die uiteindelike kampioen, Lyceés de la Borde Basse van Frankryk, met 10-24 vasgeval. Framesby moes op die ou einde met die sewende posisie tevrede wees na hy in die uitspeelwedstryd vir dié posisie teen Higashi Fukuoka High van Japan met 29-19 gewen het.

Die eerste skote in vanjaar se Virsekerbeker vir Makroskole het ook geklap. Centurion het vir Wonderboom met 25-5 verslaan.

In die Grootskole-afdeling het Oos-Moot ‘n duidelike waarskuwing aan die ander spanne gerig deur Pretoria-Noord met 69-6 af te slag. Die span se binnesenter, Edmund Ludick, was uitstekend en het 29 van sy span se punte aangeteken. Dit het ‘n driekuns aan drieë en sewe doelskoppe ingesluit.

Al die uitslae: 

Tuks-reeks

Monument 50, EG Jansen 13; Garsfontein 32, Hoërskool Nelspruit 20; Menlopark 14, Eldoraigne 10; HTS Middelburg 28, Kempton Park 26; Transvalia 22, Hoërskool Rustenburg 7; Florida 57, Hoërskool Pietersburg 36.

NWU-Pukke Prestige-reeks

Lichtenburg 29, Marais Viljoen 22; Zwartkop 28, Hoërskool Middelburg 8; Potchefstroom Gimnasium 38, Driehoek 8; Montana 19, HTS Witbank 17; Wesvalia 26, Oosterlig 10; Randburg 24, Jeugland 19.

Oos-Kaap/KwaZulu-Natal

Grey PE 22, Paul Roos Gimnasium 20; Marlow Landbou 48, Jim Fouché 12; Die Brandwag (Uitenhage) 55, HTS Daniël Pienaar 10; St Charles College 47, Northwood 25; St Andrew’s College 25, Graeme College 10; Glenwood 59, Kearsney College 7; Westville Boys’ High 36, Jeppe High School for Boys 24; Selborne College 14, Queen’s College 12.

Vrystaat

Grey-kollege 35, Affies 32, Fichardtpark 45, Sentraal 5; Sand du Plessis 32, Zastron 0; Welkom-Gimnasium 60, Hentie Cilliers 12; Voortrekker 63, HTS Sasolburg 0; Witteberg 62, HTS Welkom 12; AHS Kroonstad 17, Wilgerivier 10; Ficksburg 37, Ladybrand 5; Reitz 25, Paul Erasmus 17; Hoopstad 66, Welkom High 12; Vrede 35, Harrismith 5; Bothaville 41, Hoërskool Kroonstad 15.

Noordvaal

Vriendskaplik: King Edward VII 39, Maritzburg College 20; Pretoria Boys’ High 42, St Benedict’s College 23; Frikkie Meyer 46, Hans Strijdom 21; Piet Potgieter 23, HTS Tom Nausé 5; Curro Heuwelkruin 57, Frans du Toit 22.

Blou Bulle: Centurion 25, Wonderboom 5; Oos-Moot 69, Pretoria-Noord 6; Hoërskool Tuine 56, Overkruin 26; Midstream Colege 39, Die Wilgers 24; Gerrit Maritz 54, FH Odendaal 0; Pretoria THS 64, Akasia 14.

Goue Leeus: Linden 21, Hoërskool Alberton 20; Bastion 29, Riebeeckrand 28; Bekker 45, Fochville 22; Leeuwenhoff 50, HTS Carel de Wet 5; Trinityhouse 57, Benoni High 15.

Luiperds: Hartbeespoort 21, Schoonspruit 14; Vryburg 34, Brits 7; Schweizer-Reneke 69, HTS Klerksdorp 10;

Limpopo: Ben Vorster 108; Louis Trichardt 7; Ben Viljoen 27, Nylstroom 25.

Pumas: Secunda 33, Lydenburg 5; Piet Retief 33, Ermelo 9; Rob Ferreira 22, Bergvlam 15; Volksrust 55, Oosterland 8; Hoogenhout 52, Kanonkop 7; Komatipoort 60, Curro Nelspruit 30; Kriel 43, Evander 12; Morgenzon Landbou 22, Hendrina 7.

Valke: Heidelberg Volkskool 55, Hoërskool Sasolburg 0; Brandwag (Benoni) 48, John Vorster (Nigel) 7; Delmas 35, Elspark 12; AHS Sasolburg 83, Vanderbijlpark 0.

Wes-Kaap: Hoër Jongenskool Paarl 67, Wynberg Boys’ High 25; Paarl Gimnasium 43, Rondebosch Boys’ High 21; SACS 24, Diocesan College 24; Boland Landbou 64, Hoërskool Bellville 15; HTS Drostdy 47, Worcester Gimnasium 7; Robertson 29, Bredasdorp 8; President 49, Elsiesrivier 5; Fairburn College 34, Parklands College 31; Tableview 25, Edgemead 5; Charlie Hofmeyr 37, Overberg 17; Groenberg 17, New Orleans 0; Brackenfell 45, De Kuilen 8; Piketberg 10, Vredendal 5; Tygerberg 56, Monumentpark 10.

Hannes Nienaber
Latest posts by Hannes Nienaber (see all)
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.