Plattelandse skolespanne kry lae hou
Die Cravenweek vir hoërskole is vanjaar die 51ste keer in Middelburg, Mpumalanga, aangebied en ná die gesogste skolerugby-toernooi ter wêreld kan ’n mens nie help om te wonder wat Dok Craven daarvan sou gedink het nie.
Die toernooi is na hom genoem en het eers die Danie Craven-week geheet. Die toernooi het sedert sy ontstaan, in 1964, baie gegroei en die beroepsera het gewis ’n reuse-impak daarop gehad.
Die idee van die hoofwedstryd van die Cravenweek het ontstaan om die twee spanne wat die opwindendste hardlooprugby gespeel het, te beloon. Dié kragmeting sou ook jaarliks as ’n vertoonvenster dien vir die goeie stand van Suid-Afrikaanse skolerugby.
Hoewel die uiteindelike nie-amptelike kampioen vanjaar, die Oostelike Provinsie, en sy teenstander in die hoofwedstryd, die Suidwestelike Distrikte, opwindende rugby in die toernooi opgedis het, sou die Griffons waarskynlik in die ou dae naby aan die hoofwedstryd gekom het.
Die Griffons het die toernooi die tweede jaar agtereenvolgens onoorwonne afgesluit.
Dié span van die Noord-Vrystaat het vanjaar 17 drieë in sy drie wedstryde gedruk. Die OP het 8 keer gaan druk en net ’n drie in elk van sy drie wedstryde afgestaan. Die span van die Baai se sukses was dus meer op sy verdediging geskoei.
Die vraag ontstaan egter wie dan vanjaar in die hoofwedstryd sou gespeel het as die ou waardes van die Cravenweek in ag geneem is.
En watter van dié twee modelle dra die meeste by tot die opvoeding van die spelers en hoe groot invloed het dit om die toekoms van ons rugby te bepaal?
Die feit dat die Cravenweek deesdae eintlik uit kwarteindstryde, halfeindstryde en ’n eindstryd bestaan, het ’n groter impak op skolerugby as wat op die oog af gesien kan word. Die feit dat spanne soos die Griffons, die Luiperds, die Pumas en Griekwas nie sommer maklik meer in die hoofwedstryd kan speel nie, het ’n invloed op spelers in die streke se besluit om liewer elders by die sogenaamde groter unies hul skolerugby te gaan speel.
Spelers wat in die hoofwedstryd gespeel of in die groter spanne en by tradisionele sterk rugbyskole skoolgegaan het, het vanweë dié tendens ’n groter kans om die SA Skolespan te haal en ook dan om ná skool ’n loopbaan uit die spel te maak.
Ons is vinnig besig om ons grootste voedingsbron van rugby, die platteland, se spelersgetalle ’n knou toe te dien en sodoende krimp die getal rugbyspelers in die land ook ál meer. Al hoe meer van die groter skole is besig om hul diepte uit die platteland aan te vul, met die skole op die platteland wat ál swaarder kry.
Dit is dalk maar net een van die uitwerkings wat beroepsrugby op die spel het.
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16
- IEB Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-15
- Rondebosch finish the prestigious Peninsula Festival as the only unbeaten side - 2025-01-12