Plasies bespreek plek in eindstryd met klinkende sege oor Ellisras

TZANEEN. – Op ‘n pragtige laat-winter dag (vir die manne vanaf die hoëveld het dit dalk gevoel soos ‘n somersdag) hier in Tzaneen het die Noordvaal Afdeling 2 se o.15-, o.16- en eerste-spanne semi-finale op “Plasiepark” te Hoërskool Merensky plaasgevind.
Die hoofwedstryd van die dag was ‘n Limpopo stryd tussen Hoërskool Merensky en Hoërskool Ellisras.
Merensky het die wedstryd begin soos ‘n wegholtrein en was reeds na slegs 15 minute se speel voor met 24 punte teenoor 0 te danke aan twee drieë deur kookwater senter Neil van Vuuren en die Plasies se besige kantman Nyakala Sethaba. Van Vuuren het ook al hierdie drieë verdoel.
Die manne het gaan lemoene eet met die Plasies wat 24 punte teenoor 7 voorgeloop het.
Ellisras het baie goed verdedig maar het Merensky se Cravenweek skakelpaar, Carl Dohse en Phillip Ludick, stelselmatig hulle stempel in die tweede helfte begin afdruk.
In ‘n stukkie briljante spel het Van Vuuren ‘n hoë-skop van Ludick opgevolg en uit die lug uit bemeester wat hy met ‘n skitterend aangee vanaf die grond vir Dohse weg gestuur vir sy drie. Van Vuuren het ook hierdie drie verdoel.
Die Plasies se vleuel Clifford Ledwaba het ook agter die doellyn gaan kuier met Akademieweek-senter Reese Coetzee wat met een strafdoel geslaag het.
Merensky se pak voorspelers het . soos hulle al die hele seisoen doen , baie goeie kwaliteit bal vir die agterspelers gegee, die Cravenweek-haker, Johan van den Heever, het ook beindruk met omgekeerde balbesit wat hy by die afbreekpunte soos ‘n tipiese Malcom Marx gegaps het.
Met 13 minute speeltyd oor is die kantman van Ellisras, Jacques Dickinson, met ‘n rooikaart van die veld gestuur nadat hy die skeidsregter in baie gekruide taal aangespreek het.
Vir Ellisras het hulle vleuel Koketso Ledwaba agter die doellyn gaan kuier met heelagter, Mabotho Gwangwa, wat verdoel het. Die twee stutte, Ewald Kirstein en Marvin Mofokeng, kan ook baie tevrede wees met hulle spel.
Merensky reis eerskomende Saterdag na Midrand waar hulle teen Midstream College in die finaal van die Noordvaal Afdeling 2 sake sal uitspook om hierdie jaar se kampioene te bepaal.
o.15 | HANS MOORE (BENONI) 16 MERENSKY 10
In die eerste kragmeting van die dag was die o.15-spanne van Merensky en Hans Moore (Benoni) gewikkel in ‘n tipiese uitspeelwedstryd wat uiteindelik gewen is deur Hans Moore met 16 punte teenoor 10.
Die rustydtelling was 10-3 in die guns van Hans Moore. Merensky het in die laaste tien minute van die wedstryd verbete aangeval maar het die hardnekkige verdediging van Hans Moore die wen vir hulle deurgetrek.
Die nommer oopkantflank, Divan Stander, asook die senterpaar, Seth Pretorius en Vincent Labuschagne van Hans Moore kan baie tevrede voel met hul spel.
Vir Hans Moore het hulle loskopstut, Dawid Kruger, agter die doellyn gaan kuier en het die geleerde skopvoet van heelagter, Troy Strydom, 11 punte bygedra met ‘n doelskop en 3 strafdoele.
Aan die kant van Merensky het ook hulle loskopstut, Carel Volschenk, gaan druk met losskakel, JD Boshoff, wat geslaag het met ‘n doelskop en ‘n strafdoel.
O.16 | POTCHEFSTROOM GIMNASIUM 38 MERENSKY 7
In ‘n baie aanskoulike o.16-wedstryd het die span van Potch Gimnasium hulle gashere van Merensky met 38 punte teenoor 7 die loef afgesteek.
Die halftydtelling was egter 12 punte teenoor 7 in die guns van die manne vanaf Potch, maar het hulle na ‘n hoër rat oorgeskakel in die tweede helfte met skitterende samespel tussen voor en agterspelers.
Vir Potch Gim het hul haker, Jaco Nel, asook senter Lourens Jacobs elkeen twee maal agter die doellyn gaan kuier met die slot Wian Coetzer en plaasvervanger Dian Smith elk met een drie.
Die losskakel, Andre Grobbelaar, het vier van die drieë verdoel.
Vir Merensky het agtsteman, Rico Pieterse, gaan druk met Byron Hendriks wat verdoel het.




