Piesangboere beëindig droogte van 27 jaar
Dit het KwaZulu-Natal ‘n volle 27 jaar en twee naamsveranderinge geneem om vir hom weer ‘n plek in die hoofwedstryd van die gesogte Coca-Cola Cravenweek vir hoërskole oop te speel. Die span van die Sharks, soos hulle deesdae bekend staan, het Donderdag op die vierde dag van die 54ste Cravenweek op St Stithians College se Baytopp-veld in Johannesburg met ‘n klinkende sege van 65-26 oor Suidwestelike Distrikte sy plek in die nie-amptelike eindstryd bespreek.
Die Piesangboere was laas in 1990 toe die toernooi in Durban aangebied was in die hoofwedstryd in aksie. Toekomstige Springbokke wat jare terug reeds hul tokse opgehang het Wayne Fyvie, Hentie Martens en Ettiene Fynn was lede van die span.
In die span van 2017 sal die name van Sanele Nohamba (skrumskakel), JJ van der Mescht (slot), Pepsi Buthelezi (agtsteman) en Conan le Fleur (senter) lank onthou word. Nohamba het teen die Voltruisboere op losskakel uitgedraf en sy skakelmaat, Jaden Hendrikse, het self ‘n uitstaande vertoning in die sege opgedis.
Van der Mescht het ‘n meer woelige wedstryd beleef en met sy volle 130kg ‘n hele paar verdedigers besig gehou. Hy is ook na afloop van die wedstryd as Coca-Cola se Hero of the Day aangewys vir die onselfsugtige manier wat hy ‘n drie aan Buthelezi geskenk het. Buthelezi, wat twee keer die doellyn oorgesteek het, is na afloop van die wedstryd vir sy uitstaande vertoning as die speler van die wedstryd aangewys.
Vir die Volstruisboere se plaasvervanger-losskakel, Clyde Lewis, het op die aanval ‘n hele paar keer vrae aan die wenspan se verdediging gevra.
Puntemakers:
Sharks 65 (38) – Drieë: Pepsi Buthelezi (2), Thabiso Mdletshe (2), Celimpilo Gumede, JJ van der Mescht, Dylan Kruger, Ntuthuko Mchunu, Njabulo Mjara, Morne van Rensburg. Doelskoppe: Jaden Hedrikse (4), Sanele Nohamba (2). Strafdoel: Hendrikse. Suidwestelike Distrikte 26 (12) – Drieë: SP Kleinhans, Ruben Coetzee, Jay-Cee Nel, Clyde Lewis. Doelskoppe: James Mollentze (3).




