Paul Roos hol Affies disnis
Paul Roos-Gimnasium se eerste span het rede om fees te vier in sy 150ste bestaansjaar, nadat hy Afrikaans Hoër Seunskool gister in die hoofwedstryd van sy rugby-feesdag in Stellenbosch met 29-12 verslaan het.
Teen rustyd het dit gelyk asof Affies met sy agttal die span van die Eikestad se partytjie sou bederf. Affies was met die omdraaislag met 12-3 voor. Die tuisspan het in die tweede helfte na ’n hoër rat oorgeskakel om uiteindelik ná die wedstryd sy kenmerkende Jolla Bolla te doen.
Outeniqua se Kwaggas sal nie gelukkig voel oor hul nederlaag van 10-35 teen Rondebosch Boys’ High nie.
Oakdale-Landbou het Landboudal van Jacobsdal met 71-0 verniel. Die span van Riversdal se vleuel Alexander Wallis en slot André Smit het elk ’n driekuns aan drieë behaal.
) Die Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley en Waterkloof van Pretoria het die indrukwekkendste vertonings van die eerste dag van die jaarlikse Pukke-Skouspel in Potchefstroom opgedis.
Noord-Kaap het Kearsney College met 42-29 verslaan.
Die span van KwaZulu-Natal het egter die wenspan vroeg die skrik op die lyf gejaag.
Kearsney het vinnig ’n voorsprong van 15-0 opgebou, voordat Northerns hul ritme gevind het.
Noord-Kaap se vleuel Cameron Hufke, die losskakel Cleo Adams en agtsteman Gerhard Holtzhausen was uitstekend.
Kearsney se puik senter James Tedder en die flank Tristan Dixon gaan nie maklik uit die Piesangboere se Cravenweek-span gehou word nie.
Klofies se agtsteman Dylan Robinson was aan die spits van sy span se oortuigende sege met 36-10 oor Framesby.
Potchefstroom-Gimnasium se vleuel Heinrich Siepker het twee keer agter die doellyn gaan draai om aan sy span ’n sege van 28-20 oor Transvalia te besorg.
Die Hoërskool Rustenburg het Florida met 18-10 getroef.
■ Soos daar verwag is, het verlede jaar se Cravenweek-speler van die Toernooi, Curwin Bosch, die vertoning van die dag op Graeme College se jaarlikse rugbydag in Grahamstad opgedis.
Hy het ’n hand in die vleuel Mohammed Connelly, die senter Keanu Vers en die flank Matthew Lawson se drieë gehad. Sy skopwerk was ook van hoogstaande gehalte.
Die gasheer, Graeme College, het hom teen Dale College met 0-24 vasgeloop. Selborne College van Oos-Londen het met 45-12 oor Brandwag van Uitenhage geseëvier.
Marlow-Landbou het Kingswood College met 31-28 geklop.
■ Marais Viljoen het Dinsdag die grootste verrassing tot sover in vanjaar se Tuks-reeks gelewer, toe hy Kempton Park met 33-17 geklop het.
Die Hoërskool Nelspruit het Donderdag Florida met 55-27 kafgedraf. Die Rhinos se losskakel Wessel Muller het puik spel gelewer.
Die vleuel Eduan Engelbrecht het ’n driekuns aan drieë in dié kragmeting behaal.




