Paul Roos het ‘n paar swaargewigte op kortlys op rugbypos te vul
Paul Roos Gimnasium kon nou wel nie daarin slaag om Swys de Bruin na Stellenbosch te lok nie, maar daar is steeds ‘n hele paar swaargewigte op die spogskool se kortlys om die pos as Hoof van Rugby te vul. Na verneem word het gesprekke tussen De Bruin en Paul Roos doodgeloop.
De Bruin was voorheen by die Springbokke en die Leeus betrokke. Hy word as een van Suid-Afrika se voorste afrigters beskou.
Onder die name op die kortlys is die huidige Varsitybeker-kampioen, Tukkies, se hoofafrigter, Nico Luus asook Boland Landbou se hoofafrigter, Oloff Bergh. Luus het in sy dae as speler die Valke in meer as 150 wedstryde verteenwoordig. Hy is sedert 2017 die Tukkies se hoofafrigter.
Bergh rig reeds sedert 2011 Boland Landbou se eerstes af. Hy het tydens die laaste Cravenweek in 2019 in Bloemfontein die Westelike Provinsie se XV-tal gebrei. Sy broer Pieter Bergh is onlangs as Griekwas se seniorspan se hoofafrigter aangestel. Laasgenoemde het die Ixias tot ‘n gedugte span in die Varsitybeker verander.
Die Bulle se agterlyn-afrigter tydens die Superrugby, David Manuel, se naam verskyn ook op die kortlys. Hy was ook tussen 2007 en 2012 die Tuks Rugby-akademie se koördineerder van afrigting. Hy het in 1997 en 1998 die SA Skole-span verteenwoordig en was ‘n leerling aan die Hoërskool Waterkloof.
Die ander name op die kortlys is nie bekend aan School of Rugby nie.
- Athletics Rankings 2025 | Boys u17 - 2025-02-18
- Athletics Rankings 2025 | Boys u15 - 2025-02-18
- Curro Hazeldean clears the hurdle at the Wildeklawer Super Interhigh Group 5 - 2025-02-11