SuperSport Schools Plus

Paul Roos die Boland-kampioen van 2017/18

By Hannes Nienaber , in Cricket | News , at 2018-02-21 Tags:

PaulRoosDie eerste krieketspan van Paul Roos Gimnasium is een stap nader daaraan om vir die eerste keer ooit vir die Coca-Cola Nasionale T20-kampioenskap te kwalifiseer. Die span van Stellenbosch het gister met die Hoër Jongenskool Paarl in die eindstryd om die Boland-titel met 12 lopies afgereken.

Paul Roos sal nou teen Rondebosch Boys’ High en die Hoërskool Outeniqua sake uitspook om as die Cobras se kampioen gekroon te word. Die Cobras se kampioen sal van 16 tot 18 Maart aan die eindronde van die Coca-Cola Nasionale T20-kampioenskap in Pretoria teen die ander ses franchises se kampioene sake om die nasionale titel uitspook. Die Cobras se eindronde vind Saterdag plaas.

Paul Roos het gister die loot gewen en gekies om eerste te kolf. Die span het 132/2 in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken danksy ‘n onoorwonne vyftigtal deur Ruan Terblanche (55*, 50b). Hy het goeie ondersteuning van Rudi Claassen (29, 29b), Ruben Senekal (20, 17b) en Francois Joubert (20, 27b) ontvang.

Kieran Williams (2/17) het die beste met die bal in die hand vir Boishaai in sy vier boulbeurte gevaar.

Boishaai is tot 120/9 beperk met Anderson Lombard (33) en Juan Burger (20) wat die meeste weerstand gebied het. Anele Matya (1/13) en Stephan Maree (1/20) het die druk met hul boulwerk op Boishaai geplaas.

Hilton College van Pietermaritzburg is die enigste skool wat reeds hul plek in die eindronde van die nasionale toernooi bespreek het. Hilton College het laas in 2015 as die Dolphins se kampioen aan die toernooi deelgeneem.

St Andrews van Bloemfontein en die Hoërskool Noord-Kaap van Kimberley sal mekaar Vrydag in die eindstryd van die Knights-streek pak. Hoërskool Rustenburg het reeds sy plek in die Lions-eindstryd bespreek. Gauteng se kampioen word Vrydag bepaal met die halfeindstryde asook eindstryd van die Johnny Waite-uitklopreeks wat dan sal plaasvind.

Die Titans se eindstryd sal Sondag beslis word. St Alban’s College van Pretoria het reeds sy plek in die eindstryd met ‘n sege oor Limpopo se kampioen, Ben Vorster van Tzaneen, bespreek. Oostelikes se eindstryd tussen EG Jansen van Boksburg en Marais Viljoen van Alberton moet nog beslis word. Die wenner van die stryd sal dan ook nog in die Titans-halfeindstryd voor Sondag teen die Mpumalanga-kampioen, Cambridge Academy, te staan moet kom.

Selborne College van Oos-Londen is Grens se kampioen, terwyl die Oostelike Provinsie se kampioen nog bepaal moet word.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.