Paul Roos bo-baas teen Grey PE
In die kort geskiedenis van die jaarlikse interskole tussen Paul Roos Gimnasium en Grey High School van Port Elizabeth is dit tot dusver telkens die losskakels wat ’n belangrike rol in die uitslag gepeel het.
In Paul Roos se sege van 36-21 oor Grey PE gister in die Markotter-stadion in Stellenbosch was dit weer die geval. Die span van die Eikestad se SA Skole-losskakel, Damian Willemse, het die spel met sy besluitneming soos ’n ware generaal dikteer. Willemse was verlede jaar in die Baai ook die groot doring in Grey se vlees met twee drieë.
In 2013 het Grey PE se losskakel, Curwin Bosch, ’n terugvegpoging gelei en was hy ook verantwoordelik vir die wenpunte in die doodsnikke. In 2007 het die Springbok-heelagter, Willie le Roux, as losskakel vir die Maroentruie ‘n rol in sy span se sege gespeel, terwyl Coenie van Wyk in 2006 al vier van Paul Roos se drieë vervyf het waarvan hy ook self een gedruk het.
Dit was Paul Roos se eerste sege oor Grey PE op sy tuisveld sedert 2010. Dit was ook Grey PE se eerste nederlaag vanjaar. Die tuisspan het teen rustyd reeds ’n stewige voorsprong van 29-14 opgebou.
Die Hoër Jongenskool Paarl se heelagter, Gianni Lombard, het in die doodsnikke van sy span se wedstryd teen die Hoërskool Outeniqua se Kwaggas in George gaan druk en sy eie drie verdoel om aan sy ’n oorwinning van 29-27 te besorg.
Boishaai spog nou met ’n onoorwonne status in sy laaste 25 wedstryde.
Paarl Gimnasium het Boland Landbou met 34-14 verslaan. Die span se agtsteman, Muller Uys, was uitstaande. Hy het veral met sy kraglopies meters ver veld gewen. Die heelagter, Wian van Zyl, en die vleuel Muller du Plessis was gevaarlik elke keer wat hulle in besit gestel is. Gimmies het rustyd ’n skrale voorsprong van 8-6 geniet, maar in die tweede na ’n hoër rat oorgeskakel.
Oakdale Landbou van Riversdal is ook steeds onoorwonne na hy HTS Daniël Pienaar met 48-8 geklop het.
Bishops het ’n agterstand van 10-16 teen rustyd in ’n sege van 30-23 teen Brackenfell omgedraai. Bishops word deur die voormalige Springbok-kaptein, Francois Pienaar, se seun Jean vanaf agtsteman aangevoer.
Die Afrikaanse Hoër Seunskool van Pretoria was in ’n verwoestende bui in Durban teen Westville Boys’ High. Affies het Westville met 62-0 kafgedraf.
In die Pukke 16-reeks sal die kampioen Pionier sy titel teen verlede jaar se naaswenner, Vryburg, volgende week verdedig. Vryburg het in sy halfeindstryd vir Fochville met 23-7 geklop, terwyl Pionier vir Pretoria-Noord in ’n opwindende wedstryd met 42-31 uitgeskakel het.




