SuperSport Schools Plus

Paarl Gim se Martins druk derde driekuns van seisoen op Noord/Suid

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2017-04-04

NuusGPaarlGimnasiumDaar is geen keer aan Paarl Gimnasium se agtsteman, Henco Martins, nie. Hy het Dinsdag sy derde driekuns van die seisoen in sy span se oortuigende sege van 39-10 oor EG Jansen van Boksburg gedruk. Dit was slegs Paarl Gimnasium se vierde wedstryd van die seisoen. 

Martins het Saterdag op die eerste dag van die Barloworld Toyota Noord/Suid-toernooi by Waterkloof in Pretoria teen Garsfontein ook drie driee gedruk. Martins het ook in sy span se eerste wedstryd van die seisoen teen Stellenberg die doellyn drie keer oorgesteek.

Die span se kaptein en heelagter, Muller du Plessis, is vir sy vertoning as die speler van die wedstryd aangewys. Du Plessis het verlede jaar die SA Skole-span op vleuel verteenwoordig. Hy het ‘n hele paar keer met sy gevaarlike systap en vaart verdedigers na lug laat gryp.

EG Jansen se losskakel, Dylan Schwartz, wat vir die derde keer vanjaar vir Ruben Beytell moes instaan was sy span se beste speler. Beytell sukkel met ‘n enkelbesering, maar Schwartz het hom vanjaar al uitstekend van sy taak gekwyt toe hy van senter na losskakel moes skuif.

Stellenberg se twee vleuels, Roche Malan en Angelo Davids, het elk dubbelle driedruk-plesier in hul span se oorwinning van 33-12 oor Menlopark ervaar. Menlopark het as die gunsteling op die veld gedraf na hy Saterdag vir Outeniqua met 49-25 kaf gedraf het.

Stellenberg se vleuels het die vrugte gepluk vir die harde werk wat sy voorspelers voorlangs ingesit het. Veral die haker, Josh Muller, en slot Janko Vermeulen het skitterspel voorlangs gelewer. 

Puntemakers: 

Paarl Gimnasium 39 (22) – Driee: Henco Martins (3), Hanco Hanekom, Muller du Plessis, Dawid Kellerman, Corne Uys. Doelskoppe: Daniel Beukes, Ruben Scholtz. EG Jansen 10 (3) – Drie: Jonathan O’Neill. Doelskop: Dylan Schwartz. Strafdoel: Schwartz.

Stellenberg 33 (12) – Drieë: Roche Malan (2), Angelo Davids (2), Jacques van Biljon. Doelskoppe: Ryan Brown (4). Menlopark 12 (0) – Drieë: Dewald Pienaar, Phillip Meiring. Doelskop: Werner Nel.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.