Opkikkerbom tref Cravenweek
Nóg ’n opkikkerbom het die Cravenweek-rugbytoernooi vir hoërskole getref.
In die nuutste skok het Danian Strauss, ’n vleuel van die Limpopo Blou Bulle, in verlede jaar se toernooi in Middelburg (Mpumalanga) positief vir die gebruik van die anaboliese steroïede nandroloon getoets.
Strauss, ’n oud-leerling aan die Hoërskool Frikkie Meyer in Thabazimbi, het skuld erken en gevolglik nie die keuse uitgeoefen om sy B-urienmonster te laat toets nie.
Hy is reeds twee jaar lank uit alle rugby geskors.
Volgens ’n afrigter van dié skool, wat anoniem wil bly, was Strauss se oortreding “ ’n geweldige skok”.
“Opkikkergebruik is ’n groot probleem op skolevlak. Afrigters weet dikwels hul spelers gebruik anaboliese steroïede, maar doen niks daaraan nie,” sê Chris Hattingh, ’n opkikker-kenner wat jare lank aan die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) verbonde was.
Sedert 2011 was geen Cravenweek vir hoërskole opkikkervry nie.
Saids het kort ná 2011 se toernooi aangekondig dat vier spelers positief getoets het. Dié seuns is nooit geïdentifiseer nie
) Op die Cravenweek van 2013 in Polokwane, het twee spelers – Salmon van Huysteen, ’n agtsteman van die Blou Bulle, en Nemo Roelofse, ’n stut van die Suidwestelike Distrikte – positief vir die gebruik van opkikkers getoets. Hulle is elk ook skorsings van twee jaar opgelê.
In 2012 is slegs een onbekende o.17-speler in die toernooi in Port Elizabeth vasgetrek.
Net twee spelers van elke span se urienmonsters word ná elke Cravenweek-wedstryd getoets.
Volgens Hattingh hou ’n middel soos nandroloon ernstige gesondheidsgevare in.
“Anaboliese steroïede help sportlui om spiermassa oor ’n baie korter tydperk op te bou, om vinniger te herstel en ook harder te oefen,” sê hy.
“Dit kan ernstige gevare vir jong spelers inhou. Die oomblik as jy dit begin gebruik, hou jy op met groei en sal jy nie langer word nie. Seuns kan borste ontwikkel, terwyl meisies weer baard kan groei. Misbruikers kan ook aan erge aknee ly, bles word en lewerkanker ontwikkel – afhangende van die grootte van die dosis.”




