SuperSport Schools News

Riemlanders lag laaste op President Steyn se jaarlikse Sportdag

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-02-24

President SteynDie Oos-Vrystaatse rugbyspanne het laaste op die Hoërskool President Steyn se jaarlikse Sportdag in Bainsvlei net buite Bloemfontein gelag.

Hoërskool Reitz het oor te veel skietgoed vir die Hoërskool Bloemfontein beskik en met 33-0 as oorwinnaars van die veld gestap. Die wenspan se Welcome Motaung en AW Meintjies het elk twee keer Bloemies se doellyn oorgesteek.

Ladybrand het die Hoër Landbouskool Hendrik Potgieter van Reddersburg met 25-15 verslaan, terwyl nog ‘n Oos-Vrystaatse span Ficksburg se sege van 19-10 oor St Andrews nog vir ‘n ruk lank die Riemland gevier sal word. .

In die hoofwedstryd van die dag het President Steyn sy rieme behoorlik teen Grey-kollege se sesde span met 10-57 styfgeloop. Die Steyners se skrumskakel, Roché Jooste, kan wel na die kragmeting met sy kop omhoog loop. Hy het albei sy span se drieë in die nederlaag gedruk. 

Jooste behoort gedurende die seisoen die Steyners se laaste vesting te beman, maar het gewys dat indien nodig hy ook agter die oond sy man sal kan staan. 

Jim Fouché se buitesenter, Zane Bester, het ‘n driekuns aan drieë in sy span se oortuigende sege van 36-7 oor Riebeeckstad behaal. Die verloorspan se hantering het hulle in die steek gelaat en hy kon daarom ook nie al die geleenthede om punte aan te teken benut nie. 

JF het teen rustyd ‘n voorsprong van 15-0 geniet, Riebies kom Saterdag op Fichardtpark se jaarlikse Sportdag teen Hendrik Potgieter te staan, terwyl Jim Fouché vir Potchefstroom Volkskool die stryd sal aansê. Volkies het verlede week met 7-24 teen Marais Viljoen van Alberton vasgeval. 

Nie eers ‘n driekuns deur Wessel Maree se Thabo van Wyk kon sy span van ‘n naelskraapse nederlaag van 19-20 teen die Hoërskool Staatspresident Swart van Brandfort red nie. Van Wyk het al sy span se punte in die nederlaag aangeteken. 

Die Hoërskool Parys het sy tweestryd met Sand du Plessis met 17-12 gewen. Sannies se Tommie Bloem en Kobus Dorfling kan tevrede met hul vertonings vir die verloorspan voel. 

Puntemakers: 

President Steyn 10 – Drieë: Roché Jooste (2). Grey-kollege VI 57

Jim Fouché 36 (15) – Drieë: Zane Bester (3), Behan Vermaak, Rudie Lambrecht. Doelskoppe: Michael Erasmus (4). Strafdoel: Erasmus. Riebeeckstad 7 (0) – Drie: Luki Rakotsoane. Doelskop: Keagan Human. 

Staatspresident Swart 20 – Drieë: Frans Lessing, Stefan Weideman, Devon Jacobs. Doelskop: Scott Olivier. Strafdoel: Olivier. Wessel Maree 19 – Drieë: Thabo van Wyk (3). Doelskoppe: Van Wyk (2).

Hoërskool Parys 17 – Drieë: Heinrich Roets, Marius Steenkamp, Wian van Niekerk. Doelskop: JF Roelofse. Sand du Plessis 12 – Drieë: Christo Erasmus, Bradley Bokhary. Doelskop: Tommie Bloem. 

Hoërskool Reitz 33 – Drieë: Welcome Motaung (2), AW Meintjies (2), JF Groenewald. Doelskoppe: Groenewald (4). Hoërskool Bloemfontein 0

[powr-comments id=”26e9268f_1551027288841″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.