Onoorwonne Valia moet lig loop vir Wit Bulle op opwaartse kurwe


Hoërskool Transvalia ruk Saterdag op na die Ras van Rooyen met een doel voor oë: om sy eerste sege oor Hoërskool Monument te behaal sedert 2018.
Volg al die Beker-aksie regstreeks op SuperSport Schools – (www.supersportschools.com)
Dit was sewe jaar gelede ook Valia se eerste oorwinning ooit oor die Wit Bulle. Hulle het naelskraaps met 34-31 vir die span van Krugersdorp verslaan, nadat ‘n vroeëre kragmeting dieselfde jaar met 31-31 gelykop geëindig het.
Die Monumentare het sedertdien die septer geswaai in die daaropvolgende twee ontmoetings, met reuse oorwinnings van 92-12 (2019) en 80-3 (2021).
Die Ligbloues het vanjaar as ‘n verrassingspakket ontpop in die Beker-afdeling, en is steeds onoorwonne in hul debuutseisoen. Dit was vernaam hul onlangse sege van 47-27 oor ‘n sterk Hoërskool Menlopark-span, wat die wenkbroue behoorlik laat lig het.
Valia beklee tans die derde posisie op dié afdeling se puntelys, met slegs Helpmekaar Kollege (eerste) en die verdedigende kampioen, Hoërskool Garsfontein (tweede), bo hom.
Die Wit Bulle, daarenteen, bevind hulself in die laaste posisie. Ten spyte daarvan dat Monnas in hul vorige twee wedstryde uithalerspel opgedis het, ontwyk ‘n eerste sege hulle steeds. Die tekens van ‘n span op ‘n opwaartse kurwe is beslis daar, soos bewys in die stryd met die Helpies ‘n week vantevore.
“Ons het aanvanklik toegespits op die basiese beginsels, maar begin nou meer fokus op die struktuur waarin ons wil speel,” sê die Wit Bulle se rugbyhoof, Reinhard Gerber.
“Dit het ‘n rukkie geneem en ons moes klippe kou, maar ons begin al hoe nader aan die eindproduk beweeg.”
Sowel Monnas as Valia betree die stryd met ‘n onveranderde beginspan. Daar is nietemin nóg goeie nuus vir die Monumentare se ondersteuners, met spelskepper, Jaydon Viljoen, wat sy terugkeer maak, maar wel vanaf die plaasvervangerbank. Die Ligbloues verwelkom ook vir hul woelige kantman, Matthew van Deventer, terug op die plaasvervangerbank, wat beteken dat die besoekers met ‘n sogenaamde “6/2-bank” na Krugersdorp reis.
In Rustenburg durf Hoërskool Rustenburg vir die Beker-Bere van Hoërskool Garsfontein aan sonder sy staatmakersenter, Jon-ré Jefthas, wat beseer geraak het in die Rusties se nederlaag van 40-15 teen Hoërskool Waterkloof. Zack Swanepoel vervang vir Jefthas, in die enigste verandering aan die beginspan.
Die Bere, wat gebuk gaan onder beserings, moes spook om vir Hoërskool Nelspruit met 32-20 op Bere-park te troef. Die beseringspook het steeds nie gewyk nie, maar Garsies het reeds aangedui dat hulle oor die nodige diepte beskik om mededingend te bly, soos twee agtereenvolgende seges, waarvan een oor die Parkies (40-27), bewys.
Indien die Bere Saterdag weer koning kraai sal dit hul vyfde agtereenvolgende oorwinning in vanjaar se reeks wees en hul aanspraak op ‘n derde agtereenvolgende titel aansienlik verstewig.
Die spanne:
Monument t. Transvalia om 12:30 in Krugersdorp:
Monument: 15 Loghan Langeveldt, 14 Jason Joubert, 13 Ruan Genis, 12 Junadré Ehlers, 11 Ewan van der Walt, 10 Cameron Kourie, 9 Ewan Bernhardi, 8 Ryno van der Westhuizen, 6 Caleb Sparks, 5 Dean Hartman, 4 Vincent Roberts, 3 Danie Smith, 2 Tristan Rodrigues, 1 Kamogelo Katisa.
Transvalia: 15 Lorenzo Flynn, 14 Dihan Crause, 13 Danté Oosthuizen, 12 Declan Hattingh, 11 Tumi Moloi, 10 Jay-Dee Maree, 9 Johan Smit, 8 Wynand Stolz, 7 Daniel Kazambo, 6 Juan Bischoff, 5 Christiaan Liebenberg, 4 Kyle Maartens, 3 Damian van Heerden, 2 Wihandré Kruger, 1 Vusi Morathi.
Hoërskool Rustenburg t. Garsfontein om 13:35 in Rustenburg:
Rustenburg: 15 Ayden Willemse, 14 Bradley Snyers, 13 Jon-Ré Jefthas, 12 Hendré Robinson, 11 Waide Davey, 10 Ricardo Enos, 9 Adriano George, 8 Thian :abuschagne, 7 Dirk Huisamen, 6 MJ Otto, 5 Evan van Heerden, 4 Tristan Myburgh, 3 Jayden Minnie, 2 Xavier Steenkamp, 1 Xander Stickling.
Garsfontein (moontlik): 15 Junade Pasensie, 14 Junaide Stuart, 13 Levi Jordaan, 12 Keagan Knighton, 11 Drewyn Baron, 10 Derrick Kuhn, 9 Dian van Aswegen, 8 Lourenz de Jager, 7 Stefan van der Vyver, 6 JP Pieterse, 5 Derik Potgieter, 4 JJ Fourie, 3 Morné Coetzer, 2 Justin Blom, 1 Morné Coetzer.
- Free State finish with a flourish - 2025-07-11
- Viljoen fires Lions to third straight title - 2025-07-11
- Results – FNB u18 Academy Week – Day 3 - 2025-07-11