Oakdale meeste spelers in vanjaar se Mutual & Federal-span
Die gasheer van die Mutual & Federal Agri Rugbyweek, Oakdale Landbou, het vanjaar die grootste verteenwoordiging in die span van die week wat jaarliks tydens die week net buite Riversdal gekies word.
Vyf van die Wit Bulle se spelers Jay-Cee Nel (binnesenter), Lian du Toit (skrumskakel), Le Roux Pepler (flank), Daniel van der Berg (slot) en Dian Bleuler (loskopstut) het 2017 se Mutual & Federal Agri XV-tal gehaal. Pepler is vir sy vertonings gedurende die week ook as die Voorspeler van die Week aangewys. Oakdale Landbou het ook die trofee ontvang vir die span wat die aanskoulikste rugby gespeel het.
Malan du Plessis en Andre Otto se troepe het Kemptonpark (50-7) en Diamantveld (34-6) oortuigend in sy twee wedstryde tot dusver op die week verslaan. Die laaste wedstryde van die week vind vandag plaas.
Welkom-Gimnasium se heelagter, Andrew Kota, is as die Agterspeler van die Week aangewys. Nog ‘n speler van Welkom-Gimnasium die haker, Dillon Minnaar, het die uitsoekspan gehaal. Die enigste speler wat verlede jaar die span gehaal het en vanjaar weer gekies is, is Diamantveld van Kimberley se senter De-an Ackermann.
Voortrekker van Bethlehem het ook twee spelers in die uitsoekspan met sy vleuel Pieter van Zyl en vaskopstut, Francois Klopper, wat gekies is. Klopper is vroeer vanjaar na afloop van die Loftus Rugbyaand vir skole as die speler van die dag aangewys. Dit het ook aan hom ‘n junior-kontrak by die Blou Bulle besorg.
Cobus Wiese wat onlangs sy buiging vir die Stormers gemaak het, het twee jaar in ‘n ry die span gehaal. Hy was ‘n leerling van die Hoerskool Upington. Uppies het vanjaar in Nakkie Duvenhage op agtsteman weer ‘n speler wat vir die span gekies is.
Die span word slegs gekies om erkenning aan die spelers vir goeie vertonings tydens die week te gee. Hy sal dus in geen wedstryd in aksie wees nie.
Die Mutual & Federal Agri XV-tal vir 2017 is:
15 Andrew Kota (Welkom Gimnasium), 14 Pieter van Zyl (Voortrekker, Bethlehem), 13 De-an Ackermann (Diamantveld), 12 Jay-Cee Nel (Oakdale Landbou), 11 Rudi Pretorius (Windhoek Gimnasium), 10 JP Viviers (Augsburg Gimnasium), 9 Lian du Toit (Oakdale Landbou), 8 Nakkie Duvenhage (Upington), 7 Michael-John Otto (Hermanus), 6 Le Roux Pepler (Oakdale Landbou), 5 Daniel van der Berg (Oakdale Landbou), 4 Xavier Haupt (Bellville), 3 Francois Klopper (Voortrekker, Bethlehem), 2 Dillon Minnaar (Welkom Gimnasium), 1 Dian Bleuler (Oakdale Landbou).
Loer hier hoe het 2016 se Mutual & Federal Agri XV-tal gelyk.




