Oakdale en Gimmies meeste spelers in MF XV-tal
Oakdale Landbou en Welkom Gimnasium het met drie verteenwoordigers elk die grootste verteenwoordiging in vanjaar se Mutual & Federal XV-tal wat na afloop van die jaarlikse Mutual & Federal-rugbyweek net buite Riversdal gekies is. Die gasheer se drie verteenwoordigers in die span is die vaskopstut, Andre Posthumus, die agtsteman, WP van Heerden, en die losskakel, Xavier Swartbooi.
Welkom Gimnasium se skrumskakel, Richman Gora, is as die agterspeler van die toernooi aangewys. Gora het die Griffons verlede jaar op die Coca-Cola Cravenweek in Stellenbosch verteenwoordig. Hy behoort vanjaar een van die sleutelspelers op die toernooi in Durban te wees. Gimmies se loskopstut, Knox Stevens, en die vleuel David Eyssen het ook die span gehaal. Welkom Gimnasium het ook met die toekenning as die span wat die aanskoulikste rugby gespeel het weggestap.
Die span word slegs gekies om erkenning aan die spelers vir goeie vertonings tydens die week te gee. Hy sal dus in geen wedstryd in aksie wees nie. Windhoek Gimnasium se flank Peter Diergaardt het die toekenning as die voorspeler van die toernooi ontvang.
Die Mutual & Federal XV-tal is:
15 Henco Pieterse (Die Brandwag), 14 Rudie Pretorius (Windhoek Gimnasium), 13 De-An Ackermann (Diamantveld), 12 Cicelo Tole (Muir College), 11 David Eyssen (Welkom Gimnasium), 10 Xavier Swartbooi (Oakdale Landbou), 9 Richman Gora (Welkom Gimnasium), 8 WP van Heerden (Oakdale Landbou), 7 Gerhard Meyer (Lichtenburg), 6 Peter Diergaardt (Windhoek Gimnasium), 5 Juan-Louis de Lange (Brackenfell), 4 Jannie du Toit (Diamantveld), 3 Andre Posthumus (Oakdale Landbou), 2 Bradley Wood (Potchefstroom Gimnasium), 1 Knox Stevens (Welkom Gimnasium).




