SuperSport Schools Plus

Nuwe kampioen vanjaar vir die Vrystaat gekroon

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2019-07-28

NewsGSentraalDaar sal vanjaar ‘n nuwe kampioen in die Vrystaatse A-liga gekroon word.

Die verdedigende kampioen, Louis Botha, is deur Jim Fouché met 56-19 in die halfeindronde van die liga op Hoërskool Sentraal se veld kaf gedraf. Louis Botha het die vorige drie jaar die kroon as kampioen van die Vrystaatse A-liga gedra. 

JF het sewe drieë in die klinkende sege oor Louis Botha ingeryg. Die wenspan se skrumskakel, Ryan George, het ses van sy span se drieë verdoel, self een gedruk asook twee strafdoele tussen deur die pale gejaag om ‘n persoonlike bydra van 26 punte tot sy span se totaal te lewer. 

Buiten George het die binnesenter, Zachery Bester, agterlangs ook uitstaande spel gelewer. Voorlangs het die loskopstut, Mamello Moshoaliba en slot Wessel Mulder meer as hul kant gebring. 

Die Hoërskool Sentraal het daarin geslaag om vir die tweede agtereenvolgende jaar tot die eindstryd van die liga deur te dring. Die Bloktruie het vir Landboudal van Jacobsdal met 34-11 in die halfeindstryd op sy tuisveld met die kous oor die kop huis toe gestuur. 

Die koël was reeds teen lemoentyd reeds deur die kerk. Tralies het daarin geslaag om teen die omdraaislag reeds ‘n gemaklike voorsprong van 24-6 op te bou. Die Lanties sal egter nie te ontmoedig oor die vertoning voel nie. Sentraal het die kragmeting vroeër vanjaar tussen die twee spanne op ‘n drafstap met 57-18 gewen. 

Soos gewoontlik het die Bloktruie se agtsteman, Janko Kachelhoffer, met die bal in die hand hoofbrekens vir sy teenstanders besorg. Die slot Frans-Noë Erasmus het in die lynstane ‘n hele paar keer vir Lanties van waardevolle balbesit beroof.

Die vaskopstut, Deon Duvenhage, het soos ‘n wafferse flank die hele veld vol gespeel en was ook sonder twyfel sy span se beste speler op die dag. Hy het die bal goed gedra en ook op die verdediging uitstekende werk verrig. Agterlangs het die buitesenter, Francois du Plessis, in sy eerste wedstryd terug in die beginspan gewys wat in hom steek. Hy het die bal goed versprei asook rotsvas op die verdediging gewees.  

Vir Lanties het sy loskopstut, Jesse “Mol” Issemonger, in die tweede helfte ‘n vurige vertoning gelewer. Die slot Nico Hendrikz het elke keer wat hy die bal onder die arm vasgeknyp het ‘n hele paar meters veld vir die verloorspan gewen. Die vaskopstut, Jannie Cronjé, het ook ‘n paar manne met sy lakwerk in hul spore gestuit. 

FOTO: Johan Fourie/Foto2Like

Puntemakers: 

Sentraal 34 (24) – Drieë: Riekard van Niekerk, Janko Kachelhoffer, Francois du Plessis, Pietman Oosthuizen, Erhard Posthumus. Doelskoppe: Francois van Rooyen (3). Strafdoel: Van Rooyen. Landboudal 11 (6) – Drie: Ryno de Lange. Strafdoele: Damien Erasmus (2).

Jim Fouché 56 (20) – Drieë: Damian Calitz, Zane Bester, Zachery Bester, Mamello Moshoaliba, Pieter Koekemoer, Ryan George, Wessel Mulder. Doelskoppe: George (6). Strafdoele: George (3). Louis Botha 19 (5).

[powr-comments id=”327e301c_1564317654858″]

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.