Northerns verf die Diamantstad groen vir 2021
Die Hoërskool Noord-Kaap het Saterdag met ‘n sege van 29-17 oor Diamantveld gesorg dat Kimberley vir die volgende jaar so effense groen kleur sal hê. Maar op die ou einde van die dag was rugby die grootste wenner in die FNB Classic Clash tussen Northerns en Diamonds.
Dit blyk sover of die tradisionele interskole tussen die twee spanne een van die min interskoles sal wees wat vanjaar op skoolvlak sal plaasvind. Meeste van die ander interskoles tussen tradisionele aartsvyande het weens verskille oor die deelname van matrieks, datums en wie weet watter verskonings reeds in die hek geduik. Duidelik is die wenmotief in meeste skole belangriker as die deelname van die seuns.
Northerns se senterpaar, JJ Mothlodi en Elric Kok, was die groot dorings in die besoekers se vlees. Mothlodi, wat ook die span aanvoer, het ‘n stewige bydra van 14 punte tot die sege gelewer. Daar moet bygevoeg word dat Diamonds se beste speler op die dag waarskynlik sy buitesenter, CJ Marx, was.
Marx is ‘n hele paar keer hard gelak, maar hy het self sy man op verdediging gestaan en ook nooit die handdoek ingegooi nie. Dit het bygedra dat Diamantveld later in die kragmeting daarin geslaag het om met twee drieë deur JP Senekal en André Hanekom meer aansien tot hul poging te gee.
Noord-Kaap se agtsteman, Henco Lourens, het self ‘n goeie dag op kantoor beleef en met sy inklimspel voorlangs beïndruk. Die span se loskopstut, Aviwe Mpepo, het ook in die los gewoel en ‘n paar keer manne hard aarde toe met sy lakwerk gebring.
Diamantveld se aanslag in die kragmeting is ‘n hele paar keer deur beserings ontspoor. Eers het die span se vleuel Theron van der Merwe die veld op ‘n draagbaar verlaat. Daarna het die skrumskakel, Wynand Botha, asook die plaasvervanger-skrumskakel, Ruben Pienaar, die veld met die beserings verlaat.
Diamonds se losskakel, Frans Williams, moes toe noodgedwonge agter die oond gaan diens doen. Gelukkig het Williams sy junior rugby op skrumskakel gespeel, so hy was darem nie heeltemal onbeholpe nie.
Indien jy die aksie gemis het of dalk net weer na die wedstryd wil gaan kyk kan jy dit doen deur op die volgende skakel van DigiTV te kliek – https://bit.ly/kimberleyclash.
FOTO: Louis Botha Fotografie – gaan loer gerus na nog fotos van die FNB Classic Clash op die volgende skakel – www.snapevent.co.za.
Puntemakers:
Noord-Kaap 29 (14) – Drieë: Henco Lourens, McNiel Cupido, JJ Mothlodi, Elric Kok. Doelskoppe: Mothlodi (3). Strafdoel: Mothlodi. Diamantveld 17 (5) – Drieë: Henlo van Niekerk, JP Senekal, Alwyn Odendaal. Doelskop: Carlo Louw.
[powr-comments id=”702b6af1_1629702806332″]
- Grey skop seisoen Saterdag op Steyners se Sportdag af - 2025-02-19
- Athletics Rankings 2025 | Boys u17 - 2025-02-18
- Athletics Rankings 2025 | Boys u15 - 2025-02-18