SuperSport Schools Plus

Northerns en Diamonds bult spiere in die Noord-Kaap

By Hannes Nienaber , in Rugby | News , at 2015-07-27

Die eerste rugbyspanne van Noord-Kaap en Diamantveld het albei Saterdag duidelike boodskappe aan mekaar gestuur dat hulle slaggereed vir hul jaarlikse derby in die Diamantstad is.

Die ENB Classic Clash tussen Noord-Kaap en Diamantveld op 15 Augustus sal bepaal wie Griekwas in die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga sal verteenwoordig.

Northerns het in Upington vir Duineveld met 30-14 die loef afgesteek. Die span van Kimberley moes boonop vroegmore eers na Upington vir die wedstryd vertrek na hulle nie slaapplek vir Vrydagaand kon kry nie.

Northerns se heelagter, Wilfred Bowers, het ‘n blink vertoning gelewer en 15 punte tot sy span se oorwinning bygedra. Hy het self een van sy span se vier drieë afgerond en ook twee doelskoppe en twee strafdoele sekuur tussen deur die pale gejaag.

Diamantveld was in ‘n verwoestende bui op sy tuisveld deur vir Fichardtpark van Bloemfontein met 61-0 kaf te draf. Die span se kaptein en kantman, Janco Cloete, het sy goeie spelpeil van die Cravenweek voortgesit en twee keer ooergeval. JP Roets het ook dubbelle driedruk-plesier ervaar.

Die span se Cravenweek-losskakel, Gerco Nortjé, het agt van sy span se nege drieë met sy geleerde skopskoen verdoel. Diamonds het met die omdraaislag reeds met 47-0 voorgeloop en in die tweede helfte sy voet so ietwat van die versneller afgehaal.

Die Hoërskool Upington se lostrio Reinhard Hayes, Cobus Wiese en Dian Dry was weer op hulle stukke. Die trio het Uppies gehelp om Landboudal van Jacobsdal op sy tuisveld, Landboupark, met 11-5 uit te oorlê. Vir Lanties het Jhuan Bezuidenhout, Michael Pienaar en Conrad Blaauw goeie spel gelewer.

De Aar se Cravenweek-vleuel, Jacques Beukes, het twee keer teen die Hoërskool Kalahari van Kuruman die doellyn oorgesteek om sy span tot ‘n sege van 29-12 te help.

Die Hoër Landbouskool Noord-Kaapland van Jan Kempdorp het vir Daniëlskuil met 26-17 in ‘n ander kragmeting in die Griekwa mediumskole-liga geklop.

Puntemakers: 

Noord-Kaap 30: Drieë: Wilfred Bowers, Daniello Huyster, Cameron Hufke, Zayne Farmer. Doelskoppe: Bowers (2). Strafdoele: Bowers (2). Duineveld 14

Diamantveld 61 (47): Drieë: Janco Cloete (2), JP Roets (2), Keaton Gordon, Nico Roets, Johan Joubert, Etdeon Greyvenstein, Gert Coetzee. Doelskoppe: Gerco Nortjé (8). Fichardtpark 0

Hoërskool Upington 11: Drie: Wynand Terblanché. Strafdoele: Johan Bekker (2). Landboudal 5: Drie: Conrad Blaauw. 

De Aar 29: Drieë: Jacques Beukes (2), Didi Fourie, Gloucester Hugo, Shaun Tara. Doelskoppe: Fourie (2). Kalahari 12.

Hannes Nienaber
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.