Noord-Kaap sy plek in Shimla-liga kwyt na verhoor
DAAR het ‘n storm in die Kimberley oor die Diamantstad se grootste skolewedstryd uitgebars. Die ENB Classic Clash tussen Hoërskool Noord-Kaap en Hoërskool Diamantveld wat vooraf as ‘n versoeningstryd gebrandmerk is, se uitslag is eergister na ‘n verhoor verander.
Northerns het vroeër vanjaar die Classic Clash tussen die twee spanne op GWK-park in Kimberley 27-19 gewen. Die wedstryd was op SuperSport gebeeldsend. Die kragmeting het ook bepaal wie Griekwaland-Wes in die halfeindstryd van die Kovsiestreek-kompetisie se Shimla-liga (vir mediumskole) verteenwoordig. Volksblad is ‘n medeborg van die kompetisie.
Die Kimberley subunie het na ‘n verhoor die “ligapunte” aan Diamantveld toegeken. Noord-Kaap gaan die beslissing appelleer. Dié beslissing beteken dat Noord-Kaap nie sy titel as kampioen van die Shimla-liga sal kan verdedig nie. Noord-Kaap is die afgelope vier jaar kampioen van die streekliga.
Dié dispuut tussen die twee skole gaan oor Noord-Kaap se post-matriek en kaptein, Lehan Muller wat in die kragmeting gespeel het. Die subunie het beslis dat dié kragmeting ‘n liga-wedstryd is, en dat daar nie post-matrieks in die liga mag speel nie. Noord-Kaap betwyfel ondermeer dat dié kragmeting ‘n liga-wedstryd is.
“Ons het sedert Februarie aan Diamantveld gevra of daar ‘n probleem sou wees indien Lehan in die kragmeting speel. Ons is ‘n week voor die kragmeting laat weet dat sy deelname in die wedstryde nie hulle goedkeuring wegdra nie. Ons betwyfel nie dat Lehan ‘n post-matriek by ons is nie. Hy is ingeskryf vir sewe vakke en vertoon verbetering op verlede jaar se werk,” het Henk Brand, skoolhoof en afrigter van Noord-Kaap gesê.
Dit is interresant dat Griekwas nie ‘n probleem gehad het om Muller as kaptein van hulle o.19-span na die Pukke-week in Potchefstroom vroeër vanjaar aan te wys nie. Northerns en Diamonds het laas in 2008 in ‘n liga in Griekwas se strukture gespeel. Drie van die ander spanne in die provinsie Landboudal van Jacobsdal, Duineveld en Hoërskool Upington wat in 2008 saam met die twee Kimberleyse skole die Griekwa-liga gevorm het, het vanjaar in ‘n nuwe liga teen mekaar en saam met Hoërskool Kalahari van Kuruman en Hoërskool Kathu sake om ‘n kroon uitgespook. Northerns het wedstryde teen Landboudal, Duineveld en Uppies op hulle bepalings gehad, maar nie een van die kragmetings het plaasgevind nie.
“Ek was verlede Woensdag by die uitvoerende hoof (Arni van Rooyen) en president (Hennie van der Merwe) was Griekwas en hulle het gevra of ons en Diamantveld nie om ‘n tafel kan sit en die saak uitpraat nie. Ons was bereid om dit te doen, maar hulle was nie bereid nie,” het Brand gesê.
- Bishops bags crucial victory over Boishaai in Schools SA20 - 2025-01-24
- Nini the Chief Destroyer of Samoa at the ICC u19 Women’s World Cup - 2025-01-20
- DBE Matric Results | Per School 2024 - 2025-01-16