Nóg ’n Jesse Kriel op pad na roem?
Stellenbosch. – Die nommer 13 word deur bygelowiges as die nommer van ongeluk beskou, maar vir die Kriel-familie van Pietermaritzburg sal dié nommer oor die vier dae ’n spesiale betekenis hê.
Jesse Kriel maak vandag sy buiging vir die Springbokke op buitesenter in die kragmeting teen die Wêreld-vyftiental op Nuweland in Kaapstad. Sy jonger broer, Matt Kriel, sal Dinsdag vir KwaZulu-Natal se o.18-span op die 52ste Cravenweek vir hoërskole in die Markotter-stadion hier in die nommer 13-trui teen die Goue Leeus uitdraf.
Die jongste Kriel sou aanvanklik nie in die Eikestad in aksie gewees het nie, maar het Donovan du Randt vervang wat weens ’n besering moes onttrek.
Nie minder as sewe spelers wat al vir die Suid-Afrikaanse Skole-span in aksie was, sal vanjaar op die toernooi in aksie wees. Die meeste nog sedert die nasionale skole-span in 1974 die eerste keer gekies is. Hulle is Curwin Bosch, Heino Bezuidenhout (albei OP), Embrose Papier, Andell Loubser (albei Blou Bulle), IG Prinsloo (Vrystaat), Cobus Wiese (Griekwa-platteland) en Edmund Rheeder (Luiperds).
Van die ander spelers met bekende familielede is Boland se agtsteman, Evan Booysen, se broer Fabian het in dieselfde posisie vir die Jong Bokkies in die skrum gesak toe hulle in 2012 as wêreldkampioen gekroon is.
Die Blou Bulle se flank, Phillip Krause, se pa Piet Krause het in 1991 die eerste SA Skole-speler van die destydse Vaaldriehoek geword. Krause sr. het in sy loopbaan ook eersterangse rugby vir die Blou Bulle, Griekwas en die Leeus gespeel.
Grens se onderkaptein en slot, Daniel Froneman, se pa Philip het as stut vir Grens in 117 wedstryde verteenwoordig.
Die Vrystaat se flank Jurie Burger se broer Junior Burger het in 2012 en 2013 vir Griekwa-platteland op die Cravenweek verteenwoordig. Wiese se ouer broer, Jasper, was ook saam destyds met Junior Burger in die plattelanders se span
Die Westelike Provinsie se senter Manuel Ras se oom is die gewese Bok-skrumskakel, Ricky Januarie. Januarie het self in 2000 die nasionale skolespan gehaal. Die Streeptruie se stut Leo Kruger se pa is ’n bekende vryskut-sportjoernalis, Kattes Kruger.
Griekwas se voorryman, Boan Venter, se pa De Waal het die Poubloues se seniorspan in 106 wedstryde verteenwoordig. Venter sr. was lid van Griekwas se span wat aan die toernooi in 1991 in Oos-Londen deelgeneem het.
In die Goue Leeus se span maak Franco Tiedt die oond skoon. Sy pa, Jannie Tiedt, het vir Transvaal en Wes-Transvaal op die rugbyveld verteenwoordig. Die Tiedt-familie is die bekendste rugbyfamilie van Randfontein. Die Leeus se flank, Henro Liebenberg, se pa Christo het ook op sy dag vir die Rooibontes uitgedraf.




