SuperSport Schools Plus

Nel-driekuns gaffel Rhinos in Mbombela

By Franco Oberholzer , in Rugby | News , at 2024-04-13 Tags: , , ,

Menlopark se hardlooprugby het geseëvier in Mbombela.

Herleef al die aksie op SuperSport Schools. (www.supersportschools.com).

Hoërskool Menlopark het vir die soveelste keer vanjaar ‘n skouspelagtige vertoning aanmekaar geslaan om Hoërskool Nelspruit se Rhinos oortuigend met 31-14 te klop in hul NWU Sportreeks-kragmeting .

Die span van Pretoria is nou, na Hoërskool Dr EG Jansen se nederlaag teen Waterkloof, die enigste onoorwonne span oor in die reeks.

Heelagter, Divan Nel, verdien hiervoor ‘n klop op die skouer. Die Pretorianers se puntemasjien was nie net uitstekend teen die Nellies nie, maar het regdeur die nuwe seisoen reeds die wenkbroue laat lig met sy sprankelspel.

Sy driekuns teen Nelspruit was inderdaad skouspelagtig en hy is ongetwyfeld besig om hard aan die deur te klop vir ‘n plek in die Blou Bulle se Cravenweekspan. Leskin Samuels, Menlopark se binnesenter, was ook ‘n doring in die vlees van die Rhinos se senterpaar.

Vir die tuisspan het niemand beter vertoon as agtsteman, Vaughn van Zyl, nie. Die werkesel het oral op die veld opgeduik om sy aanvalsvernuf ten toon te stel, en is met een van sy span se twee drieë beloon.

Die blitsige, Tinyiko Silubane, was die span se ander uitblinker op linkervleuel, en sy vernuftige voetwerk het gelei tot die tuisspan se eerste kuiertjie agter die Parkies se doellyn.

Hoërskool Oos-Moot het, nes die Parkies, aanskoulike hardlooprugby in Centurion opgedis om vir Hoërskool Eldoraigne se Drake met ‘n telling van 36-17 kaf te draf. Agsteman, Deon Badenhorst, het in die proses nóg twee drieë op sy kerfstok vanjaar geplaas.

Die besoekers se senterpaar, Drew Williams, en Jeandre Venter, het agterlangs die vuur aangesteek om dikwels hul span op die voorvoet te plaas, en het elk ook ‘n drie gedruk.

Puntemakers:

Menlopark 31 (19) – Drieë: Divan Nel (3), Leskin Samuels, Wynand van Wyk. Doelskoppe: Andru Kuhn (3). Nelspruit 14 (7) – Driee: Tinyiko Silubane, Vaughn van Zyl. Doelskoppe: Divan de Kock (2).

Oos-Moot 36 (14) – Drieë: Deon Badenhorst (2), Franco O’Neale, Jandre de Beer, Drew Williams, Jeandre Venter. Doelskoppe: Ruwan Allen (3). Eldoraigne 17 (3) – Driee: Rikus Rheeder, Cameron Killian. Doelskoppe: JP Meyer (2). Strafdoel: Meyer.

Ander spanne:

o. 16: Menlopark 13, Nelspruit 12; Oos-Moot 17, Eldoraigne 11.

o. 15: Menlopark 45, Nelspruit 12; Oos-Moot 45, Eldoraigne 0.

o. 14: Nelspruit 17, Menlopark 12; Oos-Moot 22, Eldoraigne 0.

Franco Oberholzer
error: Sorry ol' chap, those shenanigans are not permissible.