Namibië se ‘golden jumper’, Alexandra Scheepers, skitter ook by Helpies
In 2023 het die 14-jarige Alexandra Scheepers van Windhoek Gimnasium haar naam in die geskiedenisboeke ingeëts deur Namibië se eerste goue medalje in hoogspring te verower.
Namibië se ‘golden jumper’ het sopas weer met ‘n sprong van 1,65 m by Helpmekaar Kollege se Goue Liga-atletiekbyeenkoms oorwinning behaal.
Scheepers het nie daar opgehou nie, en ook die verspring oorheers, met ‘n sprong van 5,49 m.
In die o. 17 hoogspring-item het Giselle Maritz van Helpmekaar en Genevieve Malherbe van Hoërskool Waterkloof albei 1.60 m gespring.
Johanné Lamprecht (Hoërskool Montana) en Gizelle Smith van Hoërskool Menlopark het aan ‘n intense kompetisie in sowel die gewigstoot as diskus deelgeneem. Lamprecht het uiteindelik as oorwinnaar uit die stryd getree en albei items beklink met gooie van onderskeidelik 15,10 m in gewigstoot en 39,92 m in diskus, en sodoende meer as 900 punte in elk item opgebou.
Smith was nie ver agter nie en het 12,28 m in die gewigstoot en 32,81 m in die diskus behaal.
In die o.16 gewigstoot het Marike Weitz (Windhoek Gimnasium) met ‘n gooi van 15.30 m die eerste plek verseker, terwyl Merle Janse van Rensburg (Menlopark) in die diskus beter gevaar het met ‘n gooi van 42.31 m om eerste te eindig.
In nog ‘n opwindende driestryd het Christie Loedolff van Menlopark in die o. 17-diskus geseëvier met ‘n gooi van 41.21m, terwyl Keira Pienaar van Helpmekaar kort op haar hakke gevolg het met 37.77 m en Ashlynn Nel (Menlopark) derde geëindig het met 37.29 m.
Nel het egter die bordjies verhang in die gewigstoot om met 14.73 m te wen en 920 punte aan te teken. Loedolff was tweede met 13.24 m en Pienaar derde met 13.18 m.
Alicia Khunou, ook van Menlopark, het voortgegaan om te skitter deur beide die gewigstoot en diskus in die o. 19-kategorie te oorheers met gooie van onderskeidelik 14.13 m en 47.54 m, wat meer as 950 punte in elke item verdien het.