’n Stryd vir swart spelers
Maatskaplik-ekonomiese agterstande veroorsaak dat nie genoeg jong swart rugbyspelers hul stempel in Suid-Afrika afdruk nie, skryf Hannes Nienaber.
Baie swart spelers gaan ná skool vir die spel verlore. Die vernaamste rede daarvoor is die maatskaplik-ekonomiese agterstande waarmee hulle grootgeword het, sê verskeie afrigters.
Die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru) erken ook dié feit.
Saru het sy provinsiale unies vroeër vanjaar in e-pos gevra om talentvolle swart spelers te identifiseer wat na tradisionele rugbyskole gestuur kan word.
Volgens Saru sal die regering beurse aan die spelers moet gee om “erkende rugbyskole” te kan bywoon.
Dié spelers moet volgens Saru leerlinge wees wat kom van “klein, nuwe en nie-betalende skole en skole waar rugbyspelers al hoe minder word”.
In die e-pos vra Saru ook dat die keurders in gedagte moet hou dat dié spelers goed genoeg moet wees om in hul o.18-jaar aan die Akademie-week of Cravenweek te kan deelneem.
Goodman Ndaba, ’n administrateur van die departement van sport, het bevestig dat Saru die departement gevra het of sy keurders swart spelers kan identifiseer in die Suid-Afrikaanse Skole-kampioenskap vir o.16-spelers. Die departement organiseer die toernooi.
Daar kan egter nie net van Saru verwag word om dié agterstand te probeer uitwis nie, meen die afrigters.
Nuwe idees is nodig
Jaarliks neem meer as 170 gekleurde spelers aan die Cravenweek vir hoërskole deel. Nog 275 is jaarliks in die Akademie-week in aksie. Dit wil sê ongeveer 400 gekleurde spelers van gehalte word jaarliks deur die skolestruktuur opgelewer.
Saru se strategiese transformasieplan bepaal dat die helfte van die Springbokspan teen 2019 uit gekleurde spelers moet bestaan, terwyl 60% van dié spelers etnies swart moet wees.
Daar sal dus op o.19- en o.21-vlak vir die volgende paar jaar met nuwe idees vorendag gekom moet word om sy teikens vir 2019 te kan behaal.
’n Afrigter wat lank by ’n skool was wat heelwat swart spelers opgelewer het, meen enige speler het die regte toerusting, geld, kos en ondersteuning nodig om professioneel te kan meeding – ongeag hul kleur.
“Ek het fenomenale spelers by dié skool afgerig. Ek kan nie onderskei tussen wit en swart spelers nie.
“Vir my is almal rugbyspelers,” het die afrigter gesê.
Hy het gevra om anoniem te bly.
Hy stel voor dat afrigters op provinsiale o.19- en o.21-vlak dalk nie volgens hul wenpersentasie beoordeel word nie.
Hulle moet eerder die doel gestel word om byvoorbeeld elke jaar vier swart spelers op te lewer wat gereed is om op senior provinsiale vlak te speel.
“As ’n afrigter onder druk is om te presteer op dié ouderdomsvlakke, gaan hy nie tyd bestee aan spelers se kondisionering en om toe te sien dat hulle reg eet nie. Hy gaan bloot die speler kies wat reeds gereed is om op daardie vlak mee te ding.
“Ons het swart spelers gaan haal en help ontwikkel. Die ouens se skoolgeld word betaal, hulle kry aanvullings en eet ook reg. Dan breek die skoolvakansie aan en as die speler terugkom koshuis toe, is sy kondisionering weer nie na wens nie.
“Baie van die spelers kry nie die regte kos by die huis nie en dit strem hul ontwikkeling.”
Twee van Suid-Afrika se blinkste Springbokke, Oupa Mahoje en Trevor Nyakane, spog met die Nelson Mandela-trofee wat die Bokke in September teen die Wallabies op Nuweland gewen het. Foto: Gallo Images
Voeding speel ‘n rol
Itembelihle in Port Elizabeth is een van die tradisionele swart skole wat tot dusver ’n groot bydrae tot Suid-Afrikaanse rugby gelewer het.
Theo Pieterse, die skool se afrigter, het die hulp van Supplements SA ingeroep.
Volgens Pieterse het Ewan Kromhout, die grootbaas van Supplements SA, bevind dat spelers al van 12 jaar af nie kos met die regte voedingswaarde kry nie.
“Ons het ’n plan ingestel om die spelers se voeding reg te stel,” sê Pieterse.
Hy het al spelers soos die Springbok Solly Tyibilika en die Pumas se slot Giant Mtyanda by die skool onder hande gehad.
Die plan sluit aanvullings en oefenprogramme in om die spelers van Itembelihle toe te rus om hul stempel ná skool op die rugbyveld af te druk.
Die maatskaplik-ekonomiese agterstand “veroorsaak dat hulle nie so groot soos die wit spelers is wanneer hulle op o.19-, o.21- en senior vlak moet meeding nie.
“Op skool kan hulle egter in ’n mate teen die wit kinders meeding, maar daarna word die gaping te groot,” sê Pieterse.
Dit gaan soms so erg dat Pieterse die kinders voor oefeninge ’n droë broodrol gee om te eet.
Boonop is die veld waarop gespeel word, byna sonder gras. Dié skool van die Baai het wel ’n gimnasium by Saru gekry om met die spelers se ontwikkeling te help.
Ondersteuning is nodig
Nog ’n afrigter wat baie vir swart spelers in Suid-Afrika doen, is André Hay van Ben Vorster in Tzaneen. Die Springbok-stut Trevor Nyakane is deur hom afgerig.
Daar is volgens Hay oorgenoeg spelers met talent.
“Hier is rondom ons in ’n radius van 30 km seker 600 swart skole. Die spelers moet geïdentifiseer word en ondersteuning kry.”
Volgens hom het baie van die swart spelers wat kontrakte by unies gekry het, skielik ná skool “geld in hul hande” en weet dan ook nie hoe om dit te hanteer nie.
Baie van dié spelers verval dan ’n kultuur van drankmisbruik wat hul ontwikkeling as rugbyspelers verder strem.
“Hulle het dan nie meer die strukture van ’n skool om op te steun nie en oor naweke hang hulle in kuierplekke uit,” sê Hay.
Nog ’n afrigter wat verkies het om anoniem te bly, het by ’n tradisionele wit skool afgerig waar besluit is om talentvolle swart spelers geleenthede te gee.
Hy meen ook dat van die jong spelers se persoonlike agtergrond ’n rol speel.
“Dié spelers se agtergrond tel teen hulle. Hulle kry geen ondersteuning by die huis nie en hul ouers maak hulle ook nie in ’n rugbykultuur groot nie.
“Daar is ook nie ’n stelsel vir dié seuns wat nie skool klaargemaak het wat dit moontlik maak dat hulle verder kan gaan studeer nie,” sê hy.
Dadels kom van Saru-beloftes
Die rugbyveld van Itembelihle in Port Elizabeth is in ’n haglike toestand. Die veld se gras is kol-kol versprei. Daar is ook heelwat klippe oor die hele veld.
Dit is slegs een van die verskeie probleme waarmee een van Suid-Afrika se voedingsbronne vir swart rugbyspelers sit.
Dié skool het onder andere die Springbok Solly Tyibilika opgelewer. Theo Pieterse, afrigter van die skool se eerste span, is al sedert 1979 by die skool se rugby betrokke.
In 2004 het Saru sy amptenare Edwin Ncula en Mike Stofile na die skool gestuur oor die veld se toestand. In die tien jaar sedert hul besoek het egter dadels gekom van hul beloftes.
- Results – FNB u18 Craven Week 2025 – Day 4 - 2025-07-10
- Free State soars as Mgedezi and Adams star in Craven Week thriller - 2025-07-10
- Results – FNB u18 Craven Week 2025 – Day 3 - 2025-07-09