‘n Standbeeld vir Papier
Die Hoërskool Garsfontein kan gerus ’n standbeeld vir Embrose Papier op sy skoolgronde oprig.
Die briljante skrumskakel het met ’n manjifieke vertoning gesorg dat die Virseker Beeldtrofee vir die tweede agtereenvolgende jaar staanplek in die skool se trofeekas kry. Garsies het op sy tuisveld vir Dr. EG Jansen van Boksburg met 32-28 die loef afgesteek.
Die kampioen moes dit boonop met slegs 14 man doen na sy buitesenter, Abner van Reenen, na ongeveer 20 minute se spel in die eerste helfte met ’n rooikaart van die veld deur die skeidsregter, Gerrie de Bruin, gejaag is. Van Reenen het sy kaart na ’n behoorlike boksgeveg tussen die twee spanne gekry. Hy het vir Papier te hulp gesnel na hy neergevel is.
Papier het net voor hy platgeslaan is die slot PJ Steenkamp vir ’n drie oorgestuur. Sy twee drieë sal waarskynlik albei onder die voorste tien drieë op skolevlak vanjaar tel. Hy het vroeg in die wedstryd ’n tikskoppie in Garsies se eie halfgebied waargeneem en regdeur genael om onder die pale te gaan druk.
Sy tweede was egter die drie waaroor nog die langste gepraat sal word. Garsfontein het ’n skrum vyf meter van sy doellyn gekry na Jansies se kaptein en haker, Werner Fourie, toe hy feitlik al oor die doellyn was die bal aangeslaan het. Papier het vanaf die skrum die volle lengte van die veld genael en met sy flinke voetwerk die besoekers se verdedigers uitoorlê om te gaan druk.
Die skrumskakel was in verlede jaar toe Garsfontein vir die eerste keer die gesogte trofee omhoog gehou het. Hy was ook met met sy verdediging goud werd vir Garsies gewees.
Dit sou onregverdig wees om al die lof vir die sege net aan Papier toe te skryf. Die agttal van die Turkoois Bere het hard gewerk. Dit was veral die haker, Bees Ferreira, flank Ryno Pieterse en kaptein en agtsteman, Luke Fortuin, wat fisiek voorlangs ingeklim het. Agterlangs het die heelagter, Shaun Williams, ook elke keer wat hy aan die bal gevat het vir Jansies problem besorg.
Vir Jansies het sy skrumskakel, Ginter Smuts, ’n uitstekende vertoning gelewer. Die kaptein Fourie en vaskopstut, André van der Merwe, het voorlangs gewoel.
Helpmekaar-kollege het sy titel in die Beeldtrofee vir Grootskole ook suksesvol verdedig deur die Hoërskool Lichtenburg met 55-10 kaf te draf. Helpies was teen die omdraaislag reeds stewig in die saal.
Die span se kaptein, Tiaan Scholtz, het sy span van voor gelei en met sy lopies sy span op die voorvoet geplaas. Die senter Keagan Hamman het agterlangs ook bresse na willekeur in Liggies se verdediging geslaan en is vir sy goeie spel met twee drieë beloon. Vir Lichtenburg het sy flank, Gerhard Meyer, moedig probeer en die wenspan behoorlik in die los besig gehou.
In die eindstryd vir Mediumskole het die Hoërskool Vryburg op sy tuisveld te veel skietgoed vir die verdedigende kampioen, Ben Viljoen van Groblersdal, gehad. Vryburg het die wedstryd met 39-8 gewen met sy flank Hermi Potgieter wat ’n driekuns aan drieë behaal het.
In die Middelskole se eindstryd het Schweizer-Reneke op sy tuisveld met 20-19 naelskraaps oor Zeerust geseëvier.
In die eindstryd vir Kleinskole het Curro Heuwelkruin vir Koster met 62-18 afgeransel.




