Mpumalanga menere pak mekaar
Twee van Mpumalanga se groter honde takel mekaar hierdie naweek in ‘n vriendskaplike kragmeting in Secunda.
Hoërskool Secunda speel gasheer vir hul tradisionele aartsvyande in die SDC Noordvaal Beker se Skild-afdeling, Ligbron Akademie.
Die span van Secunda was verlede jaar as kampioen van die afdeling gekroon, maar dit was Liggies se junior spanne wat verseker het dat hulle na die kompetisie se Plaat-afdeling kon skuif.
Secunda was verlede jaar die span van Ermelo se baas met seges van onderskeidelik 43-14 en 50-17. Die laaste kragmeting tussen dié spanne was in die Skild-Afdeling se halfeindstryd op die einste veld waar hulle Saterdag mekaar weer die stryd aansê.
Die tuisspan behoort geen tekort aan selfvertroue te hê nie, nadat hulle verlede naweek ‘n puik oorwinning van 47-11 oor Hoërskool Hans Moore, in Benoni, behaal het. Die Secunda-pak is besig om stewige momentum op te bou, wat ‘n lang dag vir die besoekers kan voorspel indien die tuis-agttal, onder leiding van agtsteman, Bakkies Bezuidenhout, op dreef kom.
Dit behoort ook ‘n soliede platform vir die agterlyn te skep, met verál die tuisspan se “Blink Brink” la Grange wat fyn dopgehou sal moet word. La Grange het Hans Moore se blapse kwaai gestraf om nie minder nie as vier drieë te druk. Hy draf Saterdag op regtervleuel uit, in die plek van die beseerde Nkanyiso Mashiteng, met Martin Pretorius wat La Grange se plek op buitesenter inneem.
Hulle kom nietemin teen ‘n gedugte Ligbron-agterhoede te staan, met die span van Ermelo wat nog hul wonde lek na ‘n skoknederlaag van 12-14 teen Hoërskool Rob Ferreira van Witrivier.
Die twee staatmakers in die middelveld, Anele en Lethi Ngwenya, sal hul beste voet wil voorsit om Liggies te laat terugkeer na die wenpad toe en verál soveel as moontlik spasie aan die buitekant wil probeer skep vir die sneller, Bandile Thanjekwayo, op linkervleuel.
Voorlangs sal die Liggies se breiers hoop dat slot, Thamsanga Lamula, sy deel sal bydra om die makro-pak van Secunda se momentum te probeer stuit.
Die spanne:
Hoërskool Secunda t. Ligbron Akademie om 12:20 in Secunda:
Secunda: 15 Damian de Beer, 14 Brink la Grange, 13 Martin Pretorius, 12 Bismarck Jansen, 11 Divan Mulder, 10 EJ Venter, 9 Jarno Haarhoff, 8 Bakkies Bezuidenhout, 7 Zander Scheepers, 6 Zander van der Merwe, 5 Franko Rossouw, 4 Zack Loock, 3 Jean Janse van Rensburg, 2 Rico Schoeman, 1 Stefan Bezuidenhout.
Ligbron: 15 Ntando Simelane, 14 Siyanda Dennison, 13 Anele Ngwenya, 12 Lethi Ngwenya, 11 Bandile Thanjekwayo, 10 Divan van Jaarsveld, 9 Renier van Staden, 8 Janco Claasen, 7 Jurgens Bezuidenhout, 6 Tiaan Botha, 5 Jaco van Wyk, 4 Thamsanga Lamula, 3 Sabelo Nhlapho, 2 Devan Scheepers, 1 Tiaan Groenewald.
Ander wedstrye:
12:20 – Hoër Tegniese Skool Tom Naudé t. Hoërskool Ellisras; 12:30 – Hoërskool Randburg t. Hoërskool Ben Vorster; 12:50 – Merensky Landbou Akademie t. Hoërskool Louis Trichardt; 15:30 – Hoërskool Frans du Toit t. Hoërskool Frikkie Meyer.
- Marais Viljoen durf 2025 aan met nuwe rugbyhoof en ywer - 2025-02-12
- Klofies beëindig Yesbere-segetog - 2025-02-12
- Groot honde in Finsbury se B-afdeling pak mekaar - 2025-02-11